3 maande gelede
Sakekamer ‘sal Baai nog eerste plaas’
neem OOR: Thomas Schaefer (links) verwelkom dr. Andrew Muir.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Nelson Mandelabaai-sakekamer het ’n nuwe president aangestel.

Dr. Andrew Muir neem oor by Thomas Schaefer, wat twee jaar die president was. Twee adjunkte – prof. Sibongile Muthwa, vise-kanselier van die Nelson Mandela-Universiteit, en Saki Macozoma van Volkswagen SA – sal Muir ondersteun.

“Ek is opgewonde om te dien op die raad wat sulke sterk vaardighede het, en wat lede van oral in die bedryf, sakeondernemings op alle vlakke, die gemeenskap en onderwys verteenwoordig,” sê Muir.

“Ons plaaslike ekonomie het die laaste paar jaar gestagneer en vir ’n sakekamer is dit belangrik dat ons werk met verskeie belanghebbers om die skepping van ’n bemagtigende omgewing te bevorder.

Herbou

“Dit vereis dat ons ’n back-to- basics-benadering aanneem, wat gekomplementeer moet word deur ’n sterk voorspraak-dryfkrag.”

Muir sê dit beteken die sakekamer moet in die toekoms ’n aktiewer rol speel om die stad te herbou.

Hy voeg by die raad is toegewy daaraan om die beste belange van die stad en sy mense eerste te stel.

Muir is die uitvoerende hoof van Wilderness Foundation Africa en Wilderness Foundation Global.

Hy is een van Suid-Afrika se invloedrykste bewaringsgesinde en maatskaplike entrepreneurs.

Energie

Muir is ook op die raad van verskeie bewarings- en sakeorganisasies in Suid-Afrika en die buiteland.

Die sakekamer het van sy ou raadslede behou om die kennis in die instelling te behou, maar het ook nuwe raadslede ingespan om nuwe energie te verskaf.

Hulle is Odwa Mtati, Gugu Nxiweni, Mkhuseli Faku en Grant Swart.

Schaefer sal op die raad aanbly.

Die uitvoerende hoof van die sakekamer, Nomkhita Mona, sê: “Ek sien uit daarna om die sakekamer na die volgende vlak te neem.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters