2 maande gelede
Raadslid wil saak maak ná aanval
rugsteker? Neville Higgins daag Vrydag op by die raadsvergadering, ten spyte van die DA-koalisie se besluit om dit te boikot. Foto’s: theo jeptha  ~ 

HY HET met ’n geskeurde hemp die raadsaal binnegestap.

DA-aktiviste het glo die DA-raadslid Trevor Louw se check-hemp aan flarde gelaat nadat hy die raadsvergadering bygewoon het.

Louw se bedanking uit die DA en as raadslid was op almal se lippe.

Die DA-koalisie het versuim om Vrydag se raadsvergadering by te woon omdat hulle glo dit is ’n onwettige vergadering.

Slegs die opposisie – dit wil sê die ANC, EFF, AIC en UDM – was Vrydag in die raadsaal in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Gegryp

Die ANC-koalisie is op die oomblik in die Metro in beheer.

Voorheen was die DA, Cope, ACDP en PA aan die stuur.

Die aktiviste het Louw voor die raadsvergadering glo beetgekry en sy sak gegryp waarin sy bedankingsbrief was.

Louw sê aan Son op Sondag hy quit politiek as gevolg van sy gesondheid en dat hy geen ander politieke party gaan join nie.

“Ek gaan na geen politieke party toe nie, ek gaan resign as ’n member van die DA en ook as ’n lid van die raad as gevolg van my gesondheid.

“Ek gaan uit die politiek gaan. Ná 15 jaar voel ek ek het genoeg gehad,” sê Louw.

Hy sê oor die DA-aktiviste: “Ek gaan ’n saak maak van aanranding met die opset om my ernstig te beseer en ook van diefstal vir my bag wat gegryp is.”

In die raadsitting het die speaker, Buyelwa Mafaya, die brief “null and void” verklaar omdat Louw dit nie persoonlik aan Johann Mettler, die stadsbestuurder, besorg het nie.

Die sekretariaat het die brief voor die vergadering aan Mettler oorhandig.

Mafaya het beveel die bewering dat die brief met geweld van Louw afgeneem is, moet ondersoek word.

Neville Higgins, ’n DA-raadslid, het ook by die vergadering opgedaag – ten spyte van die koalisie-partye se boikot-inisiatief.

Ná die vergadering het Higgins ook gesê hy gaan beslis nie oorloop na die ANC toe nie, maar hy gaan eerder die politiek verlaat.

Nqaba Bhanga, die DA-leier in die Oos-Kaap, sê: “Dis nie duidelik watter aansporing aan die verdoolde raadslede gebied is nie, maar hulle het besluit om die inwoners van die stad te verraai.

“Louw het sy bedankingsbrief by die DA ingehandig en prosedures is ingestel om raadslid Higgins se lidmaatskap onmiddellik te beëindig.”

Oortree

Intussen het die aanwesige raadslede ooreengekom dat die voormalige burgemeester, Athol Trollip, ’n dissiplinêre proses sal ondergaan vir die “uitlek” van ’n vertroulike munisipale verslag aan die DA-leier, Mmusi Maimane.

Trollip word daarvan beskuldig dat hy die raad se reëls oortree het deur laas jaar forensiese verslae aan Maimane te oorhandig.

Dit was in die tyd toe Mongameli Bobani (UDM) nog onderburgemeester was.

slaags: DA-aktiviste sukkel met die sekuriteit buite die Baaise raadsaal terwyl hulle wag vir Trevor Louw en Neville Higgins om uit te kom.
BLY: Mongameli Bobani sê die nuwe leierskap beweeg aan sonder die DA-koalisie.

Dié verslae, saamgestel deur die ouditeursfirma PricewaterhouseCoopers (PwC), het na bewering bewyse van onbehoorlikheid gedrag deur Bobani terwyl hy die burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid was.

Die verslae is egter nog nie openbaar gemaak nie.

Bobani het op die raadsvergadering gesê daar is ’n “nuwe sheriff in town” en die nuwe leierskap beweeg aan sonder die DA en sy koalisievennote.

“Terwyl sekeres voorgee hulle is die burgemeester en hulle is in beheer, beweeg ons aan.

“Ons gaan nie wag vir die hof nie. As regering beweeg ons aan,” meen Bobani.

“Ek wil hê ons moet ons rolle as raadslede volstaan. Ons moet seker maak die stem van die mense is belangrik. Ons moet na ons mense toe gaan en nie hulle na ons nie,” voeg Bobani by.

Trollip sê hulle het nie Vrydag se vergadering bygewoon nie, want die koalisie erken nie die “onwettig verkieste” speaker en uitvoerende bestuur nie. “Ons gaan na die Churchill-dam toe om die Here te dank vir die reën.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters