Verlede jaar
Polisie-grote kry reuse-eer
GEGROET: Genl.maj. Dawie Rabie is tydens ’n motor-optog vereer vir sy dekades van getroue diens.  ~ Foto Verskaf

VEERTIG jaar is beslis nie 40 dae nie.

Daar is vandeesweek op ’n proper wyse afskeid geneem van een van die Baai se finest.

Genl.maj. Dawie Rabie, voormalige cluster-hoof van die Motherwell-polisiestasie, het op Dinsdag 30 Junie amptelik die tuig neergelê.

Daar is in ’n seremonie met gemengde gevoelens afskeid geneem van die geliefde Rabie, wat sy gemeenskap met soveel lof en eer gedien het.

Rabie het sy loopbaan in die polisie destyds in 1980 in Knysna begin.

In sy roemryke loopbaan het hy ook gewerk by polisiestasies in die Wes-Kaap, Gauteng, die nasionale hoofkantoor, sowel as by die provinsiale hoofkantoor in die Oos-Kaap.

Vir diegene wat hom ken, is Rabie bekend vir sy empatie en vasberadenheid om sy mikpunte te bereik.

Baie mense beskryf sy loopbaan as niks minder as inspirerend nie, sê ’n polisiewoordvoerder, kol. Priscilla Naidu.

Sy sê Rabie is iemand wat sy pligte altyd met integriteit, toewyding en bereidwilligheid uitgevoer het.

“Die pad wat ’n polisiebeampte moet stap, is nooit ’n maklike een nie, maar hy’t sy liefde, passie en toewyding vir die polisiediens gedemonstreer,” sê Naidu.

KOEBAAI! Die Oos-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Liziwe Ntshinga (regs) sê Dawie Rabie en sy ervaring en toewyding gaan gemis word. Foto: Verskaf

Cops van die Nelson Mandelabaai-Metro het onlangs op ’n heel gepaste wyse van Rabie afskeid geneem.

Hulle het hom met ’n motor-optog en afskeidsgeselligheid vereer.

Nastreef

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het tydens hierdie geselligheid na Rabie verwys as een van die beste senior bestuurders in die provinsie.

“Jou loopbaan in die polisiediens was ’n suksesvolle een en jy laat ’n nalatenskap agter wat baie van ons kan nastreef,” het Ntshinga aan Rabie gesê.

“Jy is ’n man van jou woord wat doen soos wat jy sê en jou ervaring gaan baie gemis word.”

Naidu sê hulle wens die gewilde Rabie die aftrede en rus toe wat hy deur en deur verdien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters