2 maande gelede
Plekke met ou kos is vir eers gesluit
ONDERSOEK: Beamptes van die direktoraat van openbare gesondheid ondersoek ’n kombuis by ’n eetplek op Uitenhage. FOTO verskaf  ~ 

EETPLEKKE in Uitenhage moes Vrydag regstaan vir die Nelson-Mandelabaai-munisipaliteit.

Dit was hul beurt vir ’n besoek om vas te stel of hulle voldoen aan die wetgewing om kos op hul persele te maak en te verkoop.

Die besoeke volg ná soortgelyke optredes in Korsten en New Brighton nadat die subdirektoraat vir omgewingsgesondheid teen die agtergrond van die onlangse listeriose-uitbraak risiko’s vir voedsel­veiligheid uitgesonder het.

Lance Grootboom, burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid, het gesê teen Vrydagmiddag is 11 uit die 36 eetplekke wat hulle besoek het, gesluit.

Dit volg omdat hulle nie ’n sertifikaat van aanvaarbaarheid gehad het vir ’n perseel waarop kos ­berei en verkoop word nie.

“Sommige winkels het ou kos verkoop. In een winkel was amper alles wat verkoop word, verby die verstrykdatum. Ons het ál die items gekonfiskeer en die winkel gesluit.

Siektes

“Ons stuur nou ’n boodskap aan alle besighede in Uitenhage dat hulle aan die wetgewing moet voldoen.”

Luidens die direktoraat se maat­reëls kan dit tot siektes lei indien kos nie onder die vereiste toestande berei word nie. Die perseel waar kos berei word, moet ’n sertifikaat van aanvaarbaarheid hê.

Enige een wat kos berei en verkoop, moet dus die departement se toestemming daarvoor hê.

Die sertifikaat van aanvaar­baarheid word uitgereik net wanneer geëvalueer is dat die kosperseel voldoen aan die minimum gesondheidsvereistes.

Persele word dan sewe dae gebied om die sertifikaat te reël. Intussen word die eienaar in kennis gestel om die besigheid tydelik te sluit.

Die evaluering behels ook dat daar getoets word of die oppervlakke waarop kos berei word, higiënies is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters