2 maande gelede
Pastoor pak gangsters kaalvuis
PAST. BRENDON OLIVIER FOTO’S VERSKAF  ~ 

SOOS Dawid vir Goliat verslaan het, so is past. Brendon Olivier terug in die Baai om die gangsters aan te vat.

Die afgelope sewe dae het hy ’n reeks dienste regoor die Nor­therns gehou, veral in bendes se hot spots.

Hoewel Olivier oorval word met dreigemente sedert hy teen die vermeende bendelid Jermaine “Broer” Baadjies getuig het, is hy nie bang om nou tussen die bendes te loop nie.

“Die Here het omtrent ’n maand terug met my gepraat oor die toestand van Port Elizabeth. Die geweld breek my as mens geweldig.

“Die boodskap was dat ek moet terugkom Baai toe vir ’n reeks dienste by die groot gang hot spots.

“Ek wou eers nie. Ek was bekommerd oor my familie se veiligheid.”

Toe word Irvinisha Brooks (12) doodgeskiet. En verlede week, sê die pastoor, het hy weer die stem van die Here gehoor.

“Ek was toe seker dit is die Here wat my roep. En as die Here jou iewers stuur, sal Hy jou beskerm.”

Olivier sê die Here het 1 Samuel 19 gebruik om met hom te praat.

“As jy teruggaan in die Bybel, het die Here baie profete en dissipels gehad. Hy het Moses geroep om die Israeliete deur die Rooi See te help. Vir Simson het hy die krag gegee om die Filistyne te verslaan.

“Klein Dawid moes die reus Go­liat verslaan nadat Goliat die gemeenskappe gedreig het. Goliat het te veel onskuldige bloed laat vloei.

“Opgeleide manne en konings het daai tyd nie die guts gehad om teen Goliat te baklei nie.

Status

“Dieselfde gebeur vandag. Hier is ’n Goliat wat die Northerns dreig. Die polisie en pastore bewe. Kerke maak toe omdat die gangsters skiet.

“Dawid het geen status of credentials gehad nie, maar die Here het hom gebruik om die reus aan te vat. Hy het geweet enige mens kan hom slaan, maar hy het God bo Goliat gesien.”

Dan praat hy oor sy eie omstandighede. “Ek is ’n eenvoudige persoon, maar ek glo ek is geroep deur die Here om te doen wat ek doen.

“Almal sien die gangsters. Die groot geweld. Die druglords. Maar niemand sien God is groter nie.

“So, ek kom nou hierheen met God, nie met wapens nie.

“Ek kom nie in my naam nie. Ek kom in die naam van die Here.

“Baie mense wil nou opstaan teen bendes, maar as die Here jou nie daarvoor geroep het nie, moenie dit doen nie.”

Olivier het verlede Saterdag begin met opelug-dienste en was dié week in hot spots soos Extension 31 en 32, Jacksonville, Chatty 11, Schauderville en selfs Helenvale, waar hy destyds ’n moord gewitness het.

Hy vertel geharde gangsters het in trane uitgebars by hom.

“Die Here het in elke mens ’n soft spot gesit. Ek deal met daai soft spot. As jy daai soft spot bereik, dan het jy die persoon.

“Baie van die gangsters wil nie so wees nie.

“Dis die werk van die duiwel. Watter mens wat positief dink, sal ’n gun vat en iemand 15 keer skiet?

“Ek praat kliphard. Ek sê vir hulle the vengeance of God is against those who go against Him. Ek negotiate nie met die gangsters nie.

“Ek sê vir hulle direk as jy nie stop waarmee jy besig is nie, gaan God wraak neem.

“Ek vra die gangsters of hulle vir hulle eie kind ’n gun sal gee om te skiet. En as hulle ‘nee’ antwoord, dan vra ek: ‘Hoekom dit dan vir ’n ander antie se kind gee?’ ”

Kruis

Olivier glo hy het dié week lewens geraak en hy beplan om volgende maand terug te kom met ’n reuse-tent vir nóg dienste.

“Die Here het Sy kruis na die Baai gebring. Hy gaan ’n afname bring aan die onskuldige bloed wat so vloei.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters