3 maande gelede
Partye het tyd om af te koel oor geldsake
Spaarsamig: Veral die armes gaan hulle sente moet tel.Foto ter illustrasie:THEO JEPTHA  ~ 

DAAR is gemengde gevoelens onder raadslede oor die voorgestelde kapitaalbegroting vir 2019/20 in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Die AIC, EFF, UDM en ANC is ten gunste van die begroting.

Die DA, PA, Cope en die ACDP het dit teengestaan.

Daar is besluit dat raadslede ses dae het om die begroting te “own”.

Die stemming oor die begroting sal Woensdag op ’n raadsvergadering plaasvind.

Gewaarsku

Nadat die mayor, Mongameli Bobani, die voorgestelde begroting voorgelê het, het die gemoedere in die raadsaal opgevlam.

Athol Trollip (DA) het gesê die begroting moes eers deur ’n proses van open­bare deelname gegaan het.

“Die begroting lyk soos omni­shambles (sleg op elke manier). Ons sal kyk hoe die geld gebruik word, elke liewe sent daarvan,” het Trollip gewaarsku.

Marlon Daniels (PA) het gesê: “Die PA sê onapologeties ons sit die belange van die kleurling-mense van die noordelike gebiede bo-aan ons prioriteitslys.

“Ek sien dat ons gemarginaliseer word. Gebaseer hierop sê ons dat ons die begroting nie goedkeur nie.”

Lukhanyo Mrara (EFF) het gesê die tariewe word opgestoot oor besluite wat die raad vroeër geneem het.

“As die EFF steun ons ten volle wat die ANC voorgestel het. Kom ons vat liewer nog ses dae om die voorlegging (van die begroting) wat aan ons gegee is, te navigeer sodat wanneer ons terugkom, ons mekaar kan vind.”

Lance Grootboom van die ACDP het gesê verhoogde tariewe sal eet aan die reeds verminderde inkomste van arm en lae-inkomstegroepe.

“Met die hoë werkloosheidsyfer in die Nelson Mandelabaai, sal tariefverhogings ’n uitwerking hê op klein besighede, wat daartoe gaan lei dat nóg mense hulle werk verloor.”

Andile Lungisa (ANC) het gesê die inwoners sal verstaan dat tariewe opgestoot gaan word.

“Die begroting gaan na ons eie gemeenskappe,” het hy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters