29 dae gelede
Pa se selfmoord protect iemand
Hy’s weg: Markus Mordiac staan by ’n foto van sy pa, Mark Minnie.Foto’s: Deon Ferreira  ~ 

CHRIS Steyn, medeskrywer van The Lost Boys of Bird Island, glo Mark Minnie se selfmoord was om iemand anders te beskerm.

Steyn het Minnie se gedenkdiens Vrydag saam met die uitgewer Maryna Lamp­recht bygewoon.

Sy het gesê sy is kwaad en hartseer, maar sy glo nie Minnie is vermoor nie.

“Ek glo nie hy het dit gedoen uit vrees vir sy lewe nie, maar om iemand na aan hom te beskerm.

“Ek het nooit geglo Mark is doodgemaak nie. Daar was goed wat voor sy dood gebeur het wat hom gedwing het om dit te doen.”

Swaar harte: Voormalige polisiekollegas van Mark Minnie by die narkotikaburo het hulle gevalle oud-kameraad kom groet.
GROET: Mark Minnie se eks-vrou, Bernie, groet vir Chris Steyn en Maryna Lamprecht.

Steyn het bygevoeg sy sal met hul werk voortgaan.

“’n Tweede boek is die verste van ons gedagtes af. Dit gaan nou oor geregtigheid.

“Mark se stem is weg en ons moet voortgaan met wat ons het. Die Stigting vir Menseregte het ’n onafhanklike ondersoek begin na die aantygings in Mark se boek. Dit is al wat Mark wou hê. Ons kry elke dag nog nuwe leidrade. Ek wens hy was hier om dit te sien.”

Minnie se lyk is laas week op sy vriend se kleinhoewe in Theescombe gevind.

Sowat 100 mense, baie van hulle oud-polisiekollegas, het die gedenkdiens in die saal van die NG-gemeente Newtonpark bygewoon.

Minnie het ’n koeëlwond aan sy voorkop gehad en ’n vuurwapen het langs sy lyk gelê.

Die polisie het ook ’n selfmoordbrief gevind wat aan Minnie se seun, Markus Mordiac, en Steyn gerig is.

Die gedenkdiens het uit net twee nommers deur ’n trompetspeler en huldeblyke deur vriende en familie bestaan. Dit is gelei deur Minnie se vriend Benade Kruger.

Sy familie en vriende het hom onthou as stout, ’n held, ’n karate kid en iemand vir wie sy twee kinders allerbelangriks was.

Minnie se broer, Istvan Revsz, het voor die diens gesê die familie glo nie hy het selfmoord gepleeg nie.

SUPPORT: Familie en vriende van Mark Minnie ondersteun mekaar by die gedenkdiens.Foto: Deon Ferreira
VRIENDE: Mandy Kuhn, ’n vriendin, en die eienaar op wie se plaas Minnie se lyk gevind is, Brent Barnes, by die gedenkdiens. Foto: deon ferreira

Maar jong Markus het gesê hy sal sy pa se besluit respekteer.

“My pa was nie ’n lafaard nie, al sê baie selfmoord is ’n lafaard se manier.

“Sy oë was die blouste blou wat ek ooit gesien het toe hy daar lê, mooier as die blou lug en die see, soos kristalle.

“Jy het uitgesien na die ewige rus. Rus sag, ou man. Wanneer ek jou in die hiernamaals ontmoet, sal ek jou ’n p**sklap gee. Daarna sal ons saam lag.

“Toe jy die sneller trek, hoop ek jy het geweet hoe lief ek vir jou is.”

Hy het in sy huldeblyk ook belowe dat hy na sy suster, Brooklyn, sal omsien.

STERKTE: Mark Minnie se medeskrywer, Chris Steyn, praat met sy dogter, Brooklyn Minnie.

Brooklyn het op haar beurt gesê haar pa was een van die braafste mense. Hy was ook liefdevol – en ’n malkop.

“Dit maak seer om te weet jy gaan nie in my lewe wees nie. Maar jy is in my hart en ons band sal nooit verbreek kan word nie. Ek is trots om jou dogter te wees.”

Minnie (58) het in die 1980’s as ’n speurder by die polisie se gespesialiseerde narkotikaburo, Sanab, in Port Elizabeth gewerk.

In dié tyd het hy ’n beweerde pedofielnetwerk ondersoek waarby ministers van die apartheidsera en andere glo betrokke was.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters