2 maande gelede
Oud-prokkie kry sy tweede kans
staan op: André Zakay is dalk haweloos, maar hy is eintlik ’n lawyer van beroep. Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

HY HET ’n knak in die lewe gekry, maar die lockdown het hom geïnspireer om weer op te staan.

André Zakay was in die 1980’s en 1990’s ’n huishoudelike naam in die Baai.

Hy het reeds op skool die apartheidsregering trompop aangevat en geensins teruggedeins nie. Soveel so dat hy sy matriekeindeksamen in 1986 in die St. Albans-gevangenis moes skryf.

Gegewe die briljante individu wat hy is, het hy sy matriekeind­eksamen met vlieënde vaandels geslaag en toe by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer.

Daar was hy aktief by die politiek betrokke en het hom in 1991 as prokureur bekwaam.

“Ek het verkeerde keuses in die lewe gemaak en my huwelik het ook later verbrokkel.

“Ook is ek aangekla van bedrog en korrupsie en my lewe het agteruitgegaan. Ek het alles verloor in die lewe en het op straat beland.

“My familie het my verstoot. Dit het vir my gevoel asof God my in die steek gelaat het en ek het die Moslem-geloof aangeneem.

“Ek het my menswaardigheid verloor. Twee jaar gelede het ek vanuit die Kaap terug Baai toe gekom en my familie hier het my ook verstoot. Ek het op straat geslaap.

“Gelukkig het ek die sake teen my gewen en my plan is nou om weer op die prokureursrol te kom.”

Volgens Zakay is hy in die Baai betrokke by ’n gemeente wat hom gehelp het om weer sin aan sy lewe te gee.

“Hulle het my oortuig dat God nog altyd lief is vir my en dat Hy my nooit verlaat het nie.”

Zakay word tans saam met talle ander haweloses in die Jarman-saal gehuisves totdat die corona-virus homself uitgewoed het.

Daar beywer hy hom tans om ’n stem vir die haweloses te wees. Hy het die United Disadvantaged & Forgotten Frontiers (UDDF) gestig.

Bekommerd

“Ek wil voortaan ’n aktiewe rol in die gemeenskap speel. Ek sal graag regshulp aan húlle wil verleen wat dit nie kan bekostig nie.

“Persoonlik voel ek die regering kan meer doen vir die haweloses, want almal is bekommerd wat met hulle gaan gebeur as die inperking verby is. Ek is net die Here dankbaar vir dié tweede kans in my lewe,” het Zakay afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters