9 dae gelede
Ou vas wat eks vermoor en seun (9) dreig
Eric MeyersFOTO verskaf  ~ 

HY HET sy eks-girlfriend vermoor en gedreig om ook sy eie seun dood te maak.

Daarna het hy soos mis voor die son verdwyn.

Gerugte wou dit hê dat Eric “Ntroko” Meyers (45) selfmoord gepleeg het, maar die polisie van Port Alfred, waar die moord en poging tot moord gepleeg is, het aanhou soek.

Hulle het uiteindelik sukses behaal. ’n Gesamentlike operasie deur polisielede van Port Alfred en Motherwell het daartoe gelei dat Meyers Donderdag 00:30 in die Izinyoka-lokasie in Motherwell aangekeer is.

Hy is daarna teruggeneem na Port Alfred, waar hy Vrydag in die hof verskyn het op aanklagte van moord en poging tot moord.

Meyers was sedert 7 Oktober 2018 voortvlugtig. Hy het toe sy eks-girlfriend verskeie kere in die bolyf gesteek. Sy is op die toneel dood.

Daarna het hy gedreig en probeer om sy seun (9) dood te maak. Hy het ook gedreig om sy eie lewe te neem.

Aangemeld

Nog ’n familielid by wie die seun bly, is tydens dié voorval beseer.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ná die voorval dadelik na die verdagte begin soek.

“Gerugte is in die gemeenskap versprei dat die man selfmoord gepleeg het, maar geen sulke voorvalle is ooit by die owerhede aangemeld nie.

“Daarom het die polisie voortgegaan met die soektog na die verdagte.”

Brig. Morgan Govender, klusterbevelvoerder van die Port Alfred-polisie, is in sy noppies dat Meyers eindelik aangekeer is en bedank alle beamptes en veral dié van Motherwell, vir hul hulp en harde werk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters