Verlede maand
Omgee nog nie op slot
POT VOL HOOP: Earl Piet (regs) en sy span vrywilligers skep hoop in hulle gemeenskap.  ~ Bryan Goliath

DIE uitbreking van die corona-virus-pandemie het in baie mense se lewe groot challenges meegebring.

Waar ’n pa of ma vroeër gou ’n los joppie kon doen om iets op die tafel te sit, beteken die inperking hulle moet tuisbly.

Die gevolg daarvan is brood­gebrek en kinders wat honger gaan slaap.

King’s Gate Revival Ministries in Bloemendal, Port Elizabeth, het dit goed­gedink om ’n sopkombuis in die area te begin.

Apostel Earl Piet van die bediening sê tydens die uitdeel van die sop en brood hou hulle streng by die reëls.

Die kinders het ’n meter van mekaar gebly en hulle hande met seep en water gewas.

Daarna is sanitiser op hulle hande gespuit.

“Dit is verblydend om die blink ogies te sien,” sê Piet. “Ons hart gaan uit na die gemeenskap wat minder het.

“Dis ’n absolute voorreg om dié bietjie aan hulle te gee.

“Baie dank gaan aan diegene wat onbaatsugtig skenkings maak. Ons haal ook geld uit ons eie sakke. Een van ons doelwitte is om kospakkies te verskaf aan hulle wat ’n behoefte het.”

Volgens Piet is daar ’n groot behoefte in die gemeenskap. Hy en sy span wil graag ’n stem wees vir dié wat dit nodig het.

Hy sê hulle gee op ’n Donderdagmiddag meer as 200 kinders en volwassenes kos.

“Wat ons harte seermaak, is dat die sop en brood baiekeer nie genoeg is nie. Daarom wil ons graag op barmhartige Samaritane ’n beroep doen om te help waar hulle kan.

“Daar is tans ’n behoefte aan ’n gasstoof en gas. ’n Verpleegster het ’n donasie gemaak nadat sy van die sopkombuis gehoor het.

“Elke bietjie help. Vrydag­oggende gee ons die mense pap.”

Piet sê die droom is om die kinders drie keer per week van ’n maaltyd te voorsien.

Mooi

Junior Lucas (5) en Eugene van Rhyner (10) was baie dankbaar vir die ete.

Lucas het sy handjies mooi gewas nadat hy in die ry gestaan het. Hy kon nie wag om van die heerlike sop te kry nie.

Piet hoop ook dat al die kindertjies eendag ’n sukses van hulle lewe sal maak en nie meer op onder meer ’n kosplan sal hoef staat te maak nie.

Mense wat ’n bydrae wil maak, kan hom bel by 083 799 0439.

SANITISE: Klein Junior Lucas se handjies word eers gesaniteer voor hy sy sop en brood kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters