11 dae gelede
Nuwe baadjie, nuwe paadjie
voltooi: Die Helenvale Resource Centre in die Baaise northerns. FOTO’S VERSKAF  ~ 

IN HELENVALE heers in die alge­meen hopeloosheid.

Só het die Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap (MBOA) dié week gesê toe hy die media op ’n toer van sewe projekte gevat het.

Die MBOA wou ’n oorsig gee oor projekte wat afgehandel is en lig werp op details van die nuwes.

Een van die projekte is die Helenvale Resource Centre (HRC) in die Baaise noordelike gebiede.

Ashraf Adam, uitvoerende hoof van die MBOA, sê daar is ’n paar uitdagings in dié area.

Uitdagings

“Die gemeenskap bestaan uit mense wat weens gedwonge verskuiwings tydens apartheid saamgevoeg is.

“Dié nedersetting is ver van die sentrale ekonomie en geleenthede.

“Van die uitdagings wat ons in Helenvale geërf het, is die pandemiese middelmisbruik, werkloosheid onder veral die jeug, bende­aktiwiteite en ’n algemene gevoel van hopeloosheid,” verduidelik Adam.

Die KfW-bank en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het die MBOA die mandaat vir die projek gegee.

Adam sê nog dinge het hulle laat kopkrap.

Dit was byvoorbeeld moeilik om aandag te gee aan infrastruktuur terwyl bendes die hele tyd met mekaar koppe stamp.

Dit het só erg geraak dat kontrakteurs kop uitgetrek het.

Die MBOA en die Suid-Afrikaanse en Duitse regering moes ingryp.

Dít is gedoen deur die program Safety and Peace through Urban Upgrading.

Die HRC is reeds in 2014 voltooi, maar die ontwikkelings in Helenvale duur voort.

Die jeug word onder meer touwys gemaak oor leierskap. Maatskap­like dienste (soos Sassa) en gesondheidsorg word ook gekoördineer.

Die meerdoelige parkie in Neave Avenue in Schauderville is in Mei voltooi.

Hier kan mense by die openbare gym oefen, sport beoefen, rotsklim, opvoerings hou of net ontspan.

Die projek het R11,5 miljoen beloop. Die parkie is deel van ’n groter plan in die Schauderville- en Korsten-area.

“Die gemeenskap het ’n parkie aangevra. Dit sal ’n veilige ruimte bied en sport in die gemeenskap bevorder.

“Die parkie is sentraal geleë. Daar is twee skole daar naby,” verduidelik Adam.

Hartjie

Ag klein, middelslag- en mikro-ondernemings (SMME’s) het oor die R2 miljoen se kontrakte gekry.

Sedert verlede jaar bestuur die MBOA ook die Nelson Mandelabaaise wetenskap-en-tegnologie-sentrum. Dis reeds in 2013 bekend gestel.

Dié projek het R30 miljoen gekos. Die sentrum is geleë in die hartjie van Uitenhage se sentrale sakekern.

“Die sentrum bied skole en leerders die geleentheid om blootgestel te word aan wetenskap en tegno­logie,” sê Adam.

Maar die MBOA gaan nie nou ophou nie.

Die Uitenhage railway sheds sal ook gerestoureer word.

Hieroor sê Adam: “Die MBOA is besig om die opknapping van die sheds aan te pak.

“Sars wil graag die eiendom huur sodra die herontwikkeling in 2021 voltooi is.”

Die geskatte koste van die projek is om en by R7,4 miljoen.

In die boekjaar 2018-2019 het die MBOA kapitaaluitgawes na 60% verbeter.

Hierdie syfers moet nog bevestig word deur die finale ouditeurs­verslae deur die ouditeur-generaal en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit. Dit behoort aanstaande maand beskikbaar te wees.

In 15 jaar het die MBOA reeds meer as R600 miljoen spandeer aan stedelike en maatskaplike infrastruktuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters