6 maande gelede
Naamsverandering pla talle...
change: Daar is ’n moontlikheid dat Nelson Mandelabaai se naam kan verander na Gqebera. Foto: nmmustudy.blogspot.co.za  ~ 

DAAR is gemengde gevoelens oor die voor­gestelde naamsveranderinge van Nelson Mandelabaai.

Sommiges meen die geld wat vir naamsveranderinge gebruik sal word, kan beter aangewend word waar daar nood is.

Een voorstel is dat die Baai se naam verander word na Gqebera. Dit is tans die naam van die area ook bekend as Walmer Township.

Nog voorstelle is dat die Port Elizabeth-lughawe verander word na Chief David Stuurman Airport en dat Uitenhage nou Kariega genoem moet word.

Ander idees wat ter tafel gelê is, stel voor dat Rosedale in Uitenhage nou Kamesh genoem word en dat die NU-areas in Motherwell geskrap moet word.

Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, sê: “Die Oos-Kaapse geografiese benamings­komitee se besluit om die naam van Port Elizabeth na Gqebera te verander, is ’n klap in die gesig van die arm en sukkelende mense van die provinsie.

“Die Oos-Kaap ly tans onder ’n verlammende droogte,” sê Bhanga. “Krane loop droog en boere verloor hulle vee en oeste. Daai miljoene wat op naamsverandering spandeer sou word, kan eerder gebruik word om ons boere by te staan.”

Farouk Jeptha, voorsitter van die Concerned Citizens of PE Metro (CCPEM), sê hy is nie vir dit nie, maar ook nie daarteen nie.

“Daar is baie ander needs vir daai geld en mense gaan nog altyd die plek PE noem.

“Die geld kan gebruik word vir dinge soos behuising en unemployment. Die mense sit sonder huise, kos en water,” voeg Jeptha by.

Raadslid Lance Grootboom (ACDP) sê: “Ons is van mening dat dit ’n geweldige klomp geld sal kos.

“Daardie geld wat gebruik word om die naam te verander, kan gebruik word om mense se lewens te verander.

“Die impak van ’n naam het geen impak op die gemeenskap nie. Baie van ons het grootgeword in Port Elizabeth en Uitenhage – dit is deel van ons identiteit. Niemand ken die naam Gqebera nie,” voeg hy by.

Chief Crawford Fraser, ’n Khoi-San-leier, sê hulle ondersteun ten volle die verandering van die lug­hawe se naam.

Dis juis hulle wat in Junie laas jaar na die lug­hawe gemarch het vir die verandering van die plek se naam.

“Ons government is bietjie stadig met die naamsverandering. PE is vernoem na Queen Elizabeth, en ons is lankal verby daai tyd.

“As die lughawe na Chief Dawid Stuurman verander kan word, sal dit baie beteken vir die Khoi en San. Oral in die land het ons footprints agtergelaat. Ons wil nie net ’n memory in die oë van die government wees nie.”

Raadslid Marlon Daniels (Patriotic Alliance), mayco-lid vir ekonomiese ontwikkeling en tradisionele sake in die metro, sê die naamsveranderinge is malligheid.

“Ek kan nie so iets ondersteun nie. Ons prioriteite lê eintlik by die metro en die slegte service delivery, soos al die lekkasies en die plek wat soos ’n varkhok lyk. Werke kan create word.

“ ’n Nuwe naam gaan nie die dysfunctional government functional maak nie. Dit gaan nie ’n verskil maak in die lewens van die mense van Nelson Mandelabaai nie,” sê Daniels.

Deelname

Andile Nduna, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur, het ná vier dae steeds nie teruggekom met kommentaar nie.

Zukile Jodwana, adjunkvoorsitter van Oos-Kaapse geografiese benamingskomitee, sê hulle het reeds in 2013 aansoeke en voorstelle gekry vir naamsverandering vir die Baai.

“Ons het opnames onder die publiek gedoen en is tans besig met die proses van beswaar. Dit kan so vroeg as volgende jaar afgehandel word,” sê Jodwana.

Hy sê die volgende stap is om die finale voorstel aan Nathi Mthethwa, minister van sport, ontspanning, kuns en kultuur, te oorhandig.

Daarna sal mense wat issues het oor die naamsverandering ’n kans hê om hulle besware by Mthethwa in te dien.

Dié proses kan tot Junie duur.

“Daar is ’n paar elemente wat ons in gedagte hou met die proses.

“Eerstens oorweeg ons die historiese faktore. Ons kyk ook na die restourasie van verlore erfenis.

“Derdens kyk ons na areas van nasiebou, want ons wil eenheid skep. Ons oorweeg ook die sienings wat gekry word uit die openbare deelname,” verduidelik Jodwana.

Hy kon nie ’n bedrag gee vir die begroting wat vir die naamsverandering bewillig is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters