2 maande gelede
Ná jare se werk ’n eie kerk
Hulle trots: Daniel Fortuin pronk voor die splinternuwe kerkgebou van die Missionvale United Congregational Church.  ~ Theo Jephta

LIDMATE van die Missionvale United Congregational Church (MUCC) in die Baai gaan eerskomende naweek feesvier wanneer hulle splinternuwe kerkgebou amptelik geopen word.

Daniel Fortuin (49), een van die lidmate, sê die nuwe kerk­gebou is ’n droom wat waar geword het.

Voordat hy verder oor die nuwe kerkgebou uitgepak het, het hy Son op Sondag eers ’n bietjie background gegee oor die MUCC.

Volgens Fortuin was die MUCC destyds, toe dit nog ’n wyk was van die Roselane­gemeente (die moederkerk in Uitenhage), as die Aloes-tak bekend.

Hy sê omdat die moederkerk nie vir hulle ’n kerkgebou in die Baai kon bou nie, het hulle in 1997 besluit om van die Roselane-kerk af te stig.

Volgens Fortuin het hulle ná die afstigting nog drie jaar onder die vaandel van die Roselane-kerk gebly.

Hy sê hulle het toe nog aangehou om kerkdienste in ’n platekerkie op Seedats Grounds in Missionvale te hou.

Volgens Fortuin het hulle uiteindelik in 2000 erkenning gekry om van toe af onder die naam Missionvale Unitted Congrega­tional Church te operate.

In 2006, sê hy, het die lidmate verhuis na ’n ander platestruktuur. Dit was ook op Seedats Grounds in Missionvale. Van toe af tot nou hou hulle hier kerkdienste.

Volgens Fortuin lek die dak van die platestruktuur waarin hulle tans kerk hou.

Boonop tap die sweet hulle in die somer af en in die winter bibber hulle van die koue. Volgens hom is daar ook geen ablusie­geriewe by die platekerk nie.

Fortuin sê toe hulle destyds afgestig het van Roselane, het die moederkerk hulle R15 000 gegee.

Die ander geld vir die bouwerk aan die kerk het gekom van bydraes deur die gemeente. Hulle het ook gereeld gewoeker.

Toe die geldjies begin reg lyk, sê Fortuin, het hulle in Februarie 2018 aan die kerk begin bou. Dit het lank geneem omdat die gemeente brandarm is.

Volgens Fortuin was hulle so dankbaar om borge te ontvang van onder meer die Mary Geldenhuys Congregational Church in Gelvandale, Weis Memorial Union Church, Pearson Street Congregational Church en die Algoa-streek.

Hy sê hulle kort nog sowat R100 0000 om die kerk heeltemal klaar te maak.

Dit beslaan ’n oppervlak van 288 m² en dit kan 400 mense akkommodeer.

Konsulent

Volgens Fortuin kos bouwerk aan die kerk sowat R400 000.

Hy sê die kerk gaan onder meer toegerus wees met ’n kombuis, konsistorie en ablusie­geriewe.

Volgens Fortuin het die kerk nog nie ’n amptelike predikant nie omdat die geldsake dit in dié stadium nie toelaat nie.

Hy sê tot dan maak die kerk gebruik van ’n konsulent.

Fortuin sê die naweek van die official launch van die kerk­gebou, is dit ook die jaarfees van dié spesifieke gemeente omdat dit dan 20 jaar sal wees dat hulle ’n “selfstandige kerk” is.

Hy vertel die Algoa-streek gaan die kerk eerskomende naweek inhuldig.

Na verwagting gaan sinode­lede vanuit Johannesburg ook die feesvieringe bywoon.

Eerw. Freddie Bott gaan Saterdag die amptelike opening van die kerkgebou behartig, vertel Fortuin.

Hy voeg by die Sondag gaan eerw. Aldon September van Sid­well Memorial die kerkdiens waarneem.

Volgens Fortuin is nog borge welkom.

Hy sê hulle benodig nog stoele, ’n plafon en implemente vir die kombuis, asook nog sement, sand en verf.

Enige iemand wat graag wil hand bysit of ’n bydrae wil lewer, kan die kerk se tesourier, Mariana Nel, by 071 846 4960 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters