Verlede maand
Musical goed vir selfvertroue
AKTRISES: Caeleigh-Anne Heradien (links) en Jody Koesnel is twee van die leerders van die Hoërskool Westering wat hoofrolle in die musiekblyspel West Side Story vertolk.Foto’s: theo jeptha  ~ 

CAELEIGH-ANNE Heradien (15) van Malabar se hoofrol in die Hoërskool Westering se musiekblyspel West Side Story het haar selfvertroue ’n groot hupstoot gegee.

Die gr.10-leerder vertolk die rol van Maria en sy is alreeds vanaf gr.4 aan drama blootgestel.

In die musiekblyspel ontvou die konflik en wedywering tussen twee jeugbendes met uiteenlopende agtergronde, naamlik die Jets en die Sharks.

Die situasie word bemoeilik wanneer een van die bendelede, Tony, verlief raak op Maria (Caeleigh-Anne), die suster van een van die opposisie-bendelede.

Die rol van Tony word gespeel deur Sinelitha Hewana en die rol van Anybodys word deur Jody Koesnel vertolk.

Caeleigh-Anne beskryf die karakter van Maria as onskuldig en ’n hopeless romantic.

“Sy is baie hardkoppig en raak verlief op die verkeerde seun.

“Die hoogtepunt vir my in West Side Story tot dusver is wanneer Maria ’n duet met Anita sing nadat Anita oor die verkeerde seun uitvind.

“Die emosie in die uitvoering van die lied is so duidelik.”

Caeleigh-Anne meen die musiekblyspel doen wondere vir haar.

“Dit gee my baie selfvertroue en dit help my om nuwe geleenthede te verken.” Sy het ook raad vir haar ouderdomsgroep.

“Moenie te haastig wees om groot te word nie en respekteer ouer mense.”

Jody (18), ’n matriekleerder van Rowallanpark in die rol van Anybodys, is ’n tomboy wat desperaat is om deel van die Jets-bende te wees.

“Sy probeer alles om deel te wees, maar hulle wil haar nie aanvaar nie omdat sy ’n meisie is.

“Hierdie rol het my geleer om myself te wees en nooit op te gee nie. In die musiekblyspel stop Anybodys nooit om te probeer om ’n Jet te word nie.

“Dit maak nie saak hoeveel keer daar aan haar gesê word om ’n romp te dra of haar soos ’n meisie te gedra nie, sy bly haarself.”

Vir Jody is die hoogtepunt van haar rol wanneer Anybodys altyd die Jets onderbreek; veral wanneer hulle ’n vergadering hou.

West Side Story is ’n bekroonde Broadway- musikale revue van 1957, geïnspireer deur William Shakespeare se Romeo and Juliet.

Die musiek is gekomponeer deur Leonard Bernstein en lirieke is geskryf deur Stephen Sondheim.

Die verhaal speel in die West End in New York in die middel-1950’s af.

Van Bernstein se mees ikoniese musiek word in die blyspel gehoor, naamlik “Maria”, “Somewhere”, “Tonight” en “I Feel Pretty”. Dit is in 1961 vir film verwerk.

Amanda Engelbrecht, die hoof van musiek by die skool, sê die regie word deur Akhona Nkumanda behartig en die choreografie deur Kehly Windvogel. “Ongeveer 55 leerders is by die produksie betrokke. Elke personeellid van die Hoërskool Westering is ook agter die skerms betrokke.

“Hierdie produksie gaan vir seker wonderlike vermaak aan alle ouderdomsgroepe bied.”

West Side Story word van 1 tot 4 Augustus 19:00 in die Savoy-teater in Adcockvale opgevoer.

Daar is ook 14:00 ’n middagvertoning op Saterdag 4 Augustus.

Kaartjies is by die skool in Papenkuilsstraat in Westering beskikbaar teen R60 vir volwassenes en R30 vir leerders, studente en pensionarisse.

Skakel die skool by 041 360 7805 vir besprekings en navrae.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters