3 maande gelede
Mosie: EFF, P.A. hap na mekaar
Marlon Daniels  ~ 

DIE Patriotic Alliance (PA) wil sy party se kandidaat vir die burgemeesterspos in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die belang van die Metro se inwoners onttrek.

In ’n ope brief aan die leiers van die Economic Freedom Fighters (EFF) skryf Gayton McKenzie, PA-president, dat sy party “gewillig” is om sy kandidaat, Marlon Daniels, te onttrek, maar dat ’n regeringsverandering nie sonder die PA teweeggebring kan word nie.

Die Metro se minderheidspartye staan saam 61 stemme sterk en het kragte gesmee om die DA-burgemeester, Athol Trollip, se kop te laat rol.

Hul versoek vir ’n spesiale raadsvergadering vir Vrydag (eergister) is deur die speaker, Jonathan Lawack, van die hand gewys.

McKenzie skryf dat hy geskok is oor die EFF se beledigings en sy weiering om Daniels as burgemeester te steun.

“Alle opposisiepartye, insluitend die ANC, EFF, UDM, UF en PA, is deur die African Independent Congress (AIC) genooi om saam ’n oplossing te vind vir die voortdurende probleme van die armstes in die Nelson Mandelabaai-metro.

“Nadat daar na ál die raadslede van die onderskeie partye geluister is, is besluit om die huidige regering te verander.”

McKenzie voeg by ál die partye het ’n petisie onderteken om ’n spesiale raadsitting te versoek.

“ ’n Tweede vergadering is gehou en die EFF was die gasheer daarvan in Braamfontein.

“Weens die gebrek aan ’n ooreenkoms oor ’n burgemeesterskandidaat tussen die UDM- en PA-kandidaat, is daar oor die kwessie gestem.

“Almal behalwe die EFF het vir die PA se kandidaat gestem en die party se kandidaat is as die wenner aanvaar.”

Volgens McKenzie het die EFF later dieselfde aand ’n verklaring uitgereik waarin hy die PA as bedrieërs en skurke bestempel.

“Die vete tussen my en mnr. Malema is alombekend. Ons het groot persoonlike meningsverskille en het mekaar by elke geleentheid beledig.

“Die PA is egter die kingmaker in Nelson Mandelabaai. Die regering in Nelson Mandelabaai kan nie verander sonder ons hulp nie.

“Wie ook al dink dit is moontlik sonder die PA, is óf oneerlik óf waningelig oor hoe die plaaslike regering werk.

“Hulle het dit sonder ons probeer en het misluk.”

McKenzie skryf dat die ware lewensverandering nie bereik kan word in ’n arena waar die menslike ego die grootste besluitnemer is nie.

“Dit is nie ’n roete wat ons wil inslaan nie. Daar is onskuldige kinders se toekoms op die spel en dit sal onmenslik wees om die bestaan van baie generasies in die wiele te ry weens persoonlike vetes.

“Ons kan nie toelaat dat ons persoonlike ontevredenheid met die EFF se leiers die mense van Nelson Mandelabaai gyselaar hou nie.

“Die PA is dus gewillig om sy burgemeesterskandidaat te onttrek.”

Marlon Daniels
GAYTON MCKENZIE Foto: CITY PRESS
Nqaba BhangaFoto: THEO JEPTHA
LANCE GROOTBOOM Foto: MARYKE LOW
Athol Trollip Foto’s: DEON FERREIRA

Hy het toegegee die PA sal hou by die belofte wat hy gemaak het met sy handtekening op die dokument om die huidige DA-regering te verwyder.

Intussen het die ACDP in die metro ’n verklaring uitgereik dat dié party nooit deel kan wees daarvan om die Metro aan ’n ANC-regering terug te gee nie.

“Ons kan dus nie die posisie van onderburgemeester aanvaar wat aan ons raadslid, Lance Grootboom, gebied is nie.

“Ons is baie gelukkig met die werk wat hy vir die mense van Nelson Mandelabaai doen,” lui die verklaring.

Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, het hom sterk uitgespreek teen die beplande mosie van wantroue.

“Met die jongste beoogde wantrouemosie probeer die ANC – wat in die verlede nie orde en veiligheid in die stad gebring het nie – om die veiligheid van die inwoners te ondermyn.

“Enige opposisiepartytjie wat probeer om die mag terug te gee aan die ANC, beplan om ’n program te bevorder wat misdadigheid en korrupsie sal terugbring.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters