3 maande gelede
Moordsake van meisies sloer lank
uitgehuil: Bridget Fourie van Vastrap treur nou nog oor die wrede dood van haar dogter Shannon (17) in 2016. Shannon se ontbinde lyk is in bosse gevind.Foto’s:charles pullen  ~ 

TWEE ma’s van die North­erns sukkel jare ná die gru-moorde op hul tiener­dogters om closure­ te kry.

Dis omdat hulle in die duister is oor die status van die polisie­ondersoeke.

Shannon Fourie (17) van Vastrap het in Desember 2015 vermis geraak nadat sy ’n sak by ’n vriend afgelaai het.

Haar ma, Bridget (50), voer nou nog ’n stryd om dit te verwerk.

Shannon se ontbinde liggaam is in Februarie 2016 tussen bosse op die hoek van Standford- en Booysenparkweg gevind.

Sy sou daardie dag 18 geword het.

’n Hartseer Bridget sê: “Ná Shannon se dood het ek nooit regtig herstel nie.

“Dit voel nog soos gister. Ek kan dit nie verwerk nie.”

Nou nog, wanneer Bridget haar kinders roep om huis toe te kom, roep sy Shannon ook.

Dan herinner haar dogters haar daaraan dat Shannon nie meer met hulle is nie.

Bridget, wat aan TB, kanker en lae bloedsuiker ly, sê: “Sy kom na my toe wanneer ek slaap en sê dan vir my sy is lief vir my, dat sy veilig is en dat sy eendag weer by my sal uitkom.

“Sy het ook een keer vir my gesê ek moet saam met haar kom rus.”

Die jongste van die drie susters, Shereé (11), wil nie eens meer skool toe gaan nie, só erg mis sy Shannon.

Bridget sê: “Shereé was verlede kwartaal glad nie in die skool nie. Sy wil net nie gaan nie.

“Ek mis Shannon se smile die meeste.

“Sy het ook gehou van sing en het soggens altyd vir my ’n liedjie gesing.

“Die pyn gaan nooit weg nie.”

Bridget sê sy hoor niks van die polisie nie.

Kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, het belowe dat hy sal uitvind oor die ondersoek.

Die ander “cold case” is Jody Tiervlei (18) van Kliprand, wat op 26 Februarie drie jaar oorlede sal wees.

Jody se ma, Jeneta (42), beweer daar was ses moordenaars, maar dat inwoners die een uitgehaal het.

Sy sê sy loop die ander vyf gereeld raak wanneer sy op pad iewers heen is.

Jody se moordenaars het haar uit die huis gelok deur te sê hulle het ’n verjaardagpresent vir haar.

Pleks daarvan het hulle haar verkrag en keelaf gesny.

’n Vrou wat Jody se gille gehoor het, het haar seun gestuur om te gaan kyk wat aangaan.

Hy het na bewering afgekom op Gareth “Crown” Agnew”, wat besig was om sy klere aan te trek.

Jody se liggaam is in Izinyoka naby Govan Mbeki gevind.

Kort nadat haar liggaam gevind is, het die inwoners Agnew beetgekry, hom gemartel en met klippe doodgegooi.

uitgehuil: Bridget Fourie van Vastrap treur nou nog oor die wrede dood van haar dogter Shannon (17) in 2016. Shannon se ontbinde lyk is in bosse gevind.Foto’s:charles pullen
Toemaar... Jeneta Tiervlei se kleinkind, Rushnay, probeer haar vertroosting bied. Haar dogter Jody is twee jaar gelede verkrag en vermoor.

Vrydag het Jeneta vertel dat sy soms met haar dogter praat via ’n foto van haar.

Mis

“Ek praat met haar wanneer ek moedeloos is en wanneer dinge donker is,” sê Jeneta terwyl die trane vryelik vloei.

“Ek sal haar sê hoe dinge gaan en dat ons haar mis. Ons kan net nie vrede maak met die gedagte dat sy dood is nie.

“Haar broer, Jethro (7), slaap snags met ’n foto van haar. Hulle het die mooiste blom uit my tuin gepluk.”

Jeneta sê sy en haar gesin is nooit berading gebied nie en kan dit in elk geval nie bekostig nie.

Sy sê die polisie hou haar huishouding nie op hoogte oor die vordering van die ondersoek nie.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, onderneem om uit te vind daaroor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters