13 dae gelede
Maseti is nie net ’n mooi gesiggie
GOEIE DOEL:Xolisa Maseti (links) ontvang die pakke babadoeke van George Meko.  ~ Deon Ferreira

ALTESAME 25 babadoeke is Vrydag aan ’n finalis in ’n Oos-Kaapse skoonheidskompetisie oorhandig.

Dié doeke gaan op 7 Desember aan ’n kinderhuis en hospitaal in Oos-Londen geskenk word.

Xolisa Maseti (21) van Hankey is een van die finaliste in die Miss Eastern Cape Beauty With a Purpose Pageant.

Sy sê hierdie kompetisie gee aan jong vroue die kans om hulself en hulle gemeenskappe op te hef.

Volgens haar bied die kompetisie aan hulle ’n platform om terug te gee aan die gemeenskap.

Oudisie

Maseti het besluit om vir die kompetisie in te skryf nadat sy ’n advertensie daarvoor op Facebook gesien het.

Sy sê in September is sy na ’n oudisie by die Baywest Mall in die Baai genooi. Volgens haar was hulle in daardie stadium altesame 30 finaliste.

Sy sê op 25 Oktober het sy die goeie nuus ontvang dat sy een van die 12 finaliste is.

Dit is toe dat aan hulle gesê is om ’n gemeenskapsuitreikingsprojek aan te pak. Sy het op die insameling en uitdeel van babadoeke besluit.

George Meko van Aphile Communications sê aan Son op Sondag sowat twee weke gelede het Maseti hom en dr. Mthembeni Tebelele genader.

Meko en Tebelele doen gemeenskapsgesondheidswerk in Hankey.

Volgens Meko het Maseti hulle meegedeel sy is ’n finalis in die Miss Eastern Cape Beauty With a Purpose Pageant en sy moet 50 pakke babadoeke insamel om aan minderbevoorregte kinders te skenk.

Meko sê in daardie stadium het Maseti reeds 25 pakke babadoeke ingesamel.

Hy het namens Aphile Communications die res van die doeke aan Maseti by die Baaise stadsaal oorhandig.

Volgens Maseti het sy reeds na die Vukani Combined School in Hankey gegaan om leesboeke aan die kinders te skenk sodat hulle hulle akademiese prestasie kan verbeter.

Biblioteek

Sy het die kinders ook voorsien van ’n reading coach, omdat klaskamers oorvol is en onderwysers nie altyd die tyd het om individuele aandag aan die kinders te skenk nie.

Volgens haar gaan haar NGO aanstaande jaar die skool se biblioteek revamp.

Maseti sê op 7 Desember gaan sy deel vorm van ’n outreach march in Oos-Londen. Dis ’n optog teen die mishandeling van vroue en kids, en teen femicide.

Die jong skoonheid sê die lewe van ’n model gaan daaroor om meer jouself te wees. Volgens haar gee die kompetisie haar die kans om te groei.

Die algehele wenner van die Miss Eastern Cape Beauty With a Purpose Pageant word op 8 Desember in die Hemingways Mall in Oos-Londen aangewys.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters