2 maande gelede
Manne pak issues aan
INSPIRASIE: Hierdie groep pa’s het besluit om ’n positiewe rol in jong mans se lewe te speel.  ~ Bryan Goliath

EEN van die grootste redes hoekom so baie laities as gangsters uitdraai, is weens die gebrek aan ’n vaderfiguur in hulle lewe.

Die Baaise sakeman Nadan Naidoo sê hy het in 2015 ’n visie van God ontvang om ’n groep manne bymekaar te roep. Die Connected to Greatness Foundation is toe gebore.

Die manne het eers weekliks en toe maandeliks rondom ’n koppie koffie ontmoet.

Die hoofdoel van die stigting is om kwessies aan te pak wat mans raak.

Hulle bespreek ook terugslae en teleurstellings en probeer oplossings vind.

Die groep roer kwessies soos drank- en dwelmmisbruik, wellus en ander probleme aan.

Baie aandag word gegee aan die verhouding tussen pa en seun, want die stigting glo ’n gesonde huis sal tot minder maatskaplike probleme lei.

Die organisasie is oop vir alle mans, ongeag ouderdom of geloofsoortuiging.

Die groep lê sterk klem op geestelike waardes. Die manne word daaraan herinner dat hulle hulle gesin se voorsiener is.

Dan moet elkeen besef hy is die beskermer van sy huis en familie en hy moet sy gesin opvoed in wat reg is.

Dis baie belangrik dat die pa ’n vriend moet wees en iemand wat toeganklik is. Hy moet voorbeeldig wees en hoë morele waardes handhaaf.

Dissipline in die gesin is van onskatbare waarde en hier moet die vader sy stem kan dik maak.

Wat sekerlik die belangrikste is, is die geestelike onderrig wat ’n pa aan sy kinders moet gee.

Hy moet natuurlik sy vrou baie liefde gee en eerlik en opreg met haar lewe.

Daar is 10 groepe van omtrent 15 manne elk onder Connected to Greatness. Die meeste van hulle is in die Oos-Kaap. Die groepe vergader een keer ’n maand en die groot groep kom elke drie maande byeen.

Mosselbaai

In die Wes-Kaap is daar ook ’n groep wat sporadiese besoeke aflê deur die loop van die jaar.

In November elke jaar hou die manne hulle groot jaareind-kamp. Vanjaar sal dit in Mosselbaai plaasvind om sodoende die Kapenaars halfpad te meet.

Vir verdere inligting omtrent die stigting kan die voorsitter, Richard Draai, by 082 598 4965 gebel word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters