17 dae gelede
Mafaya gee wel gehoor ná DA dreig
RANO KAYSERFoto: son  ~ 

DIE DA het gedreig en toe het die speaker geluister, anders sou sy regstappe moes face.

Op 30 Oktober het die DA in die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit met hulp van die prokureurspraktyk Minde Schapiro & Smith ’n brief aan die speaker, Buyelwa Mafaya, gestuur.

Dit volg nadat opposisiepartye, veral die DA, ongelukkig was toe ’n spesiale raadsvergadering op 17 Oktober oor “veiligheidsredes” uitgestel is.

Mafaya het volgehou dit sou gevaarlik wees vir raadslede om die sitting by te woon nadat sy met die munisipaliteit se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit gesels het.

In die prokureursbrief staan daar die uitstel van die vergadering was onwettig.

Dit volg aangesien 117 raadslede uit 120 ’n paar weke gelede ’n petisie geteken het vir die saamroep van ’n spesiale raadsvergadering sodat die mosie van wantroue in die burgemeester, Mongameli Bobani, ter tafel gelê kan word. Dié petisie het Mafaya eintlik verplig om die vergadering byeen te roep.

Gebrekkig

Vroeg op 17 Oktober het Mafaya ’n boodskap aan alle raadslede gestuur wat lui dat sy teen die vergadering besluit het, aangesien die SAPD haar gewaarsku het dit sal ’n hoë risiko wees.

’n Polisieverklaring het dié stelling van Mafaya egter weerspreek. Dit lui die cops was gereed vir die meeting.

Die prokureurs sê haar besluit was gebrekkig.

Die brief lui verder die mosie van wantroue is ’n dringende saak en die opposisie eis sy moet binne 24 uur ’n spesiale raadsvergadering laat skeduleer – nie later as 6 November nie.

Die DA se Rano Kayser sê as Mafaya sou faal om dit te doen, sal sy party ’n hofbevel kry wat haar dwing om ’n dringende vergadering byeen te roep.

Mafaya het toe Vrydag dié boodskap aan raadslede gestuur: “Neem asseblief kennis ’n spesiale raadsvergadering sal op Maandag 4 November 2019 om 10:00 by die Woolboard Exchange Centre sit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters