2 maande gelede
Maatskaplike werkers ‘gestrand’
KOBUS BOTHA  ~ 

DIE departement van maatskaplike ontwikkeling in die Oos-Kaap het nie genoeg voertuie wat sy 1 771 maatskaplike werkers kan gebruik om hulle werk in die provinsie te doen nie.

Só het dr. Pumza Dyantyi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, in die Oos-Kaapse wetgewer gereageer op ’n vraag deur Kobus Botha, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.

Dyantyi sê die departement het net 419 voertuie vir departementele werknemers en dat net 239 van die voertuie aan dienskantore in die provinsie toegewys is.

In die Nelson Mandelabaai-metro is 24 voertuie nodig. Vir die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit word 23 voertuie benodig.

’n Bykomende begroting van R30 miljoen is nodig om 175 bykomende voertuie vir die provinsie te finansier, lui dr. Dyantyi se antwoord.

In die Nelson Mandelabaai-metro is daar 45 voertuie, met 9 wat aan die dienskantore toegewys is.

Daar is 38 voertuie in die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, met 29 wat aan die dienskantore toegewys is.

Ingevolge Dyantyi se antwoord is daar 260 maatskaplike werkers in die Metro en 155 in die Sarah Baartman-distrik.

Die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit bestaan uit die Bloukraanroete-, Dr. Beyers Naudé-, Kouga-, Kou-Kamma-, Makana-, Ndlambe- en die Sondagsriviervallei-munisipaliteit.

Botha sê maatskaplike werkers het hul frustrasie tydens sy onlangse oorsigbesoeke aan verskeie plaaslike maatskaplike ontwikkelingskantore in die provinsie laat hoor.

“Met ’n bevolking van 6, 5 miljoen mense beteken dit daar is net een maatskaplike werker elk om na die behoeftes van 3 670 mense in die provinsie om te sien.

“Aangesien die Oos-Kaap een van die armste en mees benadeelde provinsies is, is dit onbegryplik dat net dié getal maatskaplike werkers na die behoeftes van die armes, kwesbares en behoeftiges omsien.”

Botha voeg by die provinsie is geografies die tweede grootste in die land en dat die ANC-regering misluk om die behoeftes van die armes, kwesbare en behoeftiges te prioritiseer.

“Dit is byna onmoontlik vir maatskaplike werkers om ondersteuning en voorvalle-bestuur te verskaf, aangesien daar eenvoudig nie genoeg voertuie is om hulle pligte te verrig om diegene wat die kwesbaarste in ons provinsie is, te help nie.

“Die DA meen dit sal sy vermoë verbeter om broodnodige maatskaplike dienste aan gemeenskappe te lewer as aan maatskap­like werkers die regte hoeveelheid geskikte voertuie in verhouding tot die bevolkingsgrootte en plaaslike toestande verskaf word.”

Hy sê hy sal aan Dyantyi skryf en eis dat sy met die minister van maatskaplike ontwikkeling, Susan Shabangu, en alle relevante betrokkenes skakel om ’n nasionale beleidsdokument te ontwikkel.

“Die dokument moet riglyne verskaf oor die vereiste voertuigklassifikasies, die aantal voertuie wat in elke distrik benodig word en die verhouding van maatskaplike werkers tot voertuie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters