6 maande gelede
Lekker tye in, om ‘pool’ byna terug
Netjies: Só lyk die Rosedale-swembad in Uitenhage nou. Dit is amper reg vir die amptelike opening op 1 Desember.Foto’s: Deon Ferreira  ~ 

VIR die eerste keer in drie jaar gaan inwoners van Rosedale in Uitenhage weer in hulle prag-swembad baljaar.

Dié swembad, waarin die bekende swemkampioene die Basson-tweelingbroers, Alard en Alaric, leer swem het, het ’n groot historiese waarde vir die inwoners.

Dit was sedert die 1970’s altyd ’n plek waar die gemeenskap saamgekom het om te ontspan.

Daarom het die Rosedale-swembadtaakspan ingespring en, sonder om tyres te brand, “baklei” vir die heropening van die swembad.

Elroy Ward, die koördineerder van die taakspan, sê die afgelope drie somers was die swembaddens toe, blykbaar oor ’n tekort aan fondse om dit te herstel.

“Verlede jaar het ek jong kinders gesien swem in die Willow-dam en het met hulle gepraat oor die gevare van swem in daardie vuil water.

“Hulle het geantwoord dat hulle nêrens anders het om te swem nie aangesien al twee swembaddens in Uiten­hage (Hoogstraat en Rosedale) toe is.”

Daarom het hulle besluit om hulle swembad te red van vandalisme en om te keer dat dit ’n wit olifant word.

“Die direkteur van sport en re­kreasie, Charmaine Williams, het bevestig dat die openingsdatum van die Rosedale-swembad 1 Desember 2019 sal wees,” sê Ward.

Hessie Human, die voorsitter van die Rosedale-swembadtaakspan, sê: “Die hele gemeenskap het by die swembad baat gevind.

“Rugbyklubs het daar geoefen, daar was interskole-galas, daar is pieknieks gehou vir crèches en die Learn to Swim-program was beskikbaar vir kinders.

“Ons wil dit graag terugbring. Dit sal die kinders weghou van dinge soos gangsterism en dwelms.

Ondersteuning

“Ons het reeds ’n paar skole geïdentifiseer en die program is reg om in 2020 te begin.”

Sy sê sy het verlede jaar iets oor die geslote swembad op Facebook gepost en daarna het die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit sy ondersteuning gewys.

“Ek was in verskeie vergaderings met die direkteur en raadslid en ook die gemeenskap. Dit is belangrik om te noem dat ons totaal apolities is,” benadruk Human.

’n Standbeeld gaan opgerig word van die twee mans wat destyds vir die eerste opening van die Rose­dale-swembad gefight het.

Hulle is Nigel Hendricks en Thomas Paulse.

Ná vier dae het Kupido Baron, ’n munisipale woordvoerder, steeds nie kommentaar gelewer nie.

Daar is ’n paar reëls by dié swembad.

Human sê hulle het reeds met die Kamesh Polisiestasie reëlings getref vir sekuriteit, en geen alkohol of glase sal toegelaat word nie.

Inwoners moet ook weet sodra die perseel te veel mense het, kan hulle dalk nie dadelik toegelaat word nie.

Die openingseremonie van die swembad is op 1 Desember 10:00. Die Bikers’- en Datsun-klub gaan hulle rydinge 09:00 al by die bekende fourways in Kameshweg, waar dit met Acaciastraat kruis, afshow.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters