2 maande gelede
Lang vonnisse ‘skrik nie af’
SHARNE HORNE  ~ 
SHARNE HORNE
SHANE ARENDSFoto: THEO JEPTHA
Nealon RedhouseFoto’s: DEON FERREIRA
Deon Harmse

DAAR is geen bewyse in Suid-Afrika of elders dat lang vonnisse ’n afskrikmiddel is vir jong of ouer oortreders nie.

Só sê dr. Chandre Gould van die Instituut vir Sekerheidstudies.

In die Baai is Sharne Horne (25) Donderdag vir 15 jaar tronk toe gestuur vir die moord op Renaldo Lerato Afrika op 23 Julie 2016 naby Van Duurenstraat in Gelvandale.

Sy medebeskuldigde, Shane­ Arends (27), is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

In Julie is klein Aaliyah “Angel” Tee (12) se twee killers, Nealon Redhouse en Deon “Kwas” Harmse, elk tot effektief 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Regter Mandela Makaula het Red­house en Harmse in Junie skuldig bevind aan die moord op Aali­yah, twee klagte van poging tot moord op haar ouers, poging tot huisbraak met die doel om moord te pleeg, asook huisbraak met die doel om moord te pleeg.

Dr. Gould voeg by dat hoewel aanklaers in die algemeen uitsprake maak oor vonnisse wat ’n afskrikmiddel moet wees, is dit nie op enige bewyse gebaseer nie.

“Wat navorsing van Amerika voorstel, is dat harde vonnisse net ’n effektiewe afskrikmiddel is as daar ’n sterk waarskynlikheid is dat ’n oortreder gevang sal word.

“As die kanse om gevang te word vir ’n misdaad wat gepleeg is, laag is (soos in Suid-Afrika), is swaar vonnisse nie ’n effektiewe afskrikmiddel nie.”

Gerbrandt van Heerden, ’n ont­leder by die Sentrum vir Risiko-ontleding, sê hy moet nog baie meer navorsing doen, maar hy is nie seker lang vonnisse dien as afskrikmiddel nie.

“Eerstens sou oortreders banger wees as die moontlikheid om gevang te word, veel groter was.

“Tweedens, as hul misdade onder die invloed van dwelms gepleeg word, is dit waarskynlik dat niks ’n impak sal hê nie.

“As hulle ook psigopaties is, sal dit nie veel impak hê nie.

“Ek vermoed in die bendewêreld word lang vonnisse maar as ’n beroeps­gevaar beskou.”

Dr. Lincoln Fitz, dosent by die departement kriminologie aan die Universiteit van Fort Hare, sê die howe moet die belang van die gemeenskap beskerm.

Dr. Fitz verduidelik hulle moet ’n sterk boodskap aan moontlike misdadigers stuur dat sulke gedrag nie toegelaat sal word nie.

“Die konsep van afskrikking is belangrik in hierdie verband omdat die hof ander potensiële oortreders wil bang maak dat hierdie soort misdaad nie geduld sal word nie.

“Hulle moet terselfdertyd aan die oortreder vertel dat dit wat hy gedoen het, onaanvaarbaar is en hy moet die gevolge van die misdaad verstaan wat hy gepleeg het.”

Dr. Fitz voeg by om die gewig van die oortreding te bepaal, is daar ’n grondwetlike vereiste dat die straf wat opgelê word, by die oortreding moet pas.

“Dit word vasgestel deur na die toepaslike verswarende en versagtende omstandighede te kyk.

Wreedheid

“ ’n Aantal verswarende faktore wat met die misdaad verband hou, kan oorweeg word.”

Fitz voeg by dat dit in Angel se geval ’n gewelddadige misdaad was.

“Die verswarende omstandig­hede kan insluit die mate en omvang van die geweld wat gebruik word, die aard van die wapen, die brutaliteit en wreedheid van die aanval, die aard en karakter van die slagoffer, insluitend of die slagoffer ongewapend of hulpeloos is, ensovoorts.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters