Verlede jaar
Khoisan gaan op toer
Chief Khoisan SAFoto: DEON FERREIRA  ~ 

DIE Khoisan van die Baai gaan van provinsie tot provinsie om bewusmaking oor hul kultuur en taal te skep.

Chief Khoisan SA en ander Khoisan-leiers het vroeër dié maand na die Wes-Kaap vertrek om hul sogenaamde selfregering-veldtog onder Khoisan-stamhoofde uit te rol.

SA sê aan Son op Sondag: “Op 1 Januarie 2019 is selfregering verklaar deur die Khoisan en alle provinsies gaan besoek word om duidelikheid daaroor aan inheemse leiers te bring. Ons het ook mense aangemoedig om te registreer om deel te wees daarvan.

“Selfregering beteken dat ons ons eie regering sal hê. Ons het besluit om dit te verklaar, aangesien ons nie terugvoer van die regering gekry het toe ons weer verlede jaar daarheen gestap het nie.”

In hul tradisionele drag het hulle Wes-Kapenaars meer geleer oor hul taal genaamd die Khoekhoe-khoewaad, asook die kultuur.

SA sê veral die kinders was in hul noppies. Hulle het geleer hoe om in Khoekhoe-khoewaad te groet en totsiens te sê, om te tel en om oor die weer te praat.

Die aktiviste het verskeie skole besoek en by die leiers in areas soos Mitchells Plain, Eersterivier, Wemmers­hoek­ en ander klein dorpies bewustheid geskep.

Hulle beplan om ook nog na Houtbaai, Caledon, Oudtshoorn en George te reis.

SA-hulle sal tot Maandag in die Wes-Kaap rond toer, waarna hulle na Gauteng sal vertrek.

SA en ander Khoisan-aktiviste het in Desember 2017 en Desember 2018 vanaf die Baai tot in Pretoria na die Uniegebou gestap. Daar het hulle ’n memorandum aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. Die memorandum het geëis dat die Khoisan eerste nasie-status geniet.

Tweedens wil hulle hê die term “Coloured” moet geskrap word.

Derdens eis hulle dat die regering die datum van grondeise, wat van 1913 af strek, moet skrap omdat die Khoisan al voor daardie tyd grond besit het.

Vierdens wil hulle hê die taal Khoekhoe-khoewaad moet as die 13de amptelike taal van Suid-Afrika erken word.

SA sê hulle het tot vandag toe nog geen terugvoer van die regering gekry nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters