2 maande gelede
Khoi-aktiviste sit vir die zoo se diere in hok
diereregte: Rani Little sit vroeër die maand in ’n hok as deel van die picketing voor die Oos-Londense dieretuin. By haar is die LUR Oscar Mabuyane nadat hy ’n petisie ontvang het.FOTO’S VERSKAF  ~ 

VASGEVANG in ’n hok vir 11 dae.

Dis waardeur verskeie Khoisan-aktiviste môre sal moet gaan om hulle ondersteuning aan die wilde diere by die Oos-Londense dieretuin te wys.

Dis omdat hulle glo die diere by dié dieretuin, veral die jaguar­, se lewensomstandig­hede is nie wat dit moet wees nie.

Dieet

Die aktiviste wat in die hok buitekant die dieretuin sal slaap, is Christian Martin (ANC-LPW) en chiefs Joseph Kreeling (Oos-Londen), Trevor Kopeleng (Oos-Londen), Melvin Smith (King William’s Town) en Crawford Fraser (Nelson Mandelabaai).

Martin sê hulle almal gaan op ’n vegan-dieet leef. Dit be­teken geen diere of diereprodukte sal ingeneem word nie.

Hierdie kos sal deur vegan-gemeenskapslede verskaf word.

Die aktiviste en lede van Ban Animal Trading (BAT) glo dieretuine is soos opgehemelde tuislande. Hulle glo dit is outdated, moet verban word en van die munisipale verorde­ninge in die hele­ land verwyder word.

Daarby glo hulle diere word gestraf onder die voor­wendsels dat dit opvoedkundig is en dat dit nes in die geval van Sarah Baartman (wat in ’n hok geplaas is), daar is om mense se nuuskierigheid te bevredig en natuurlik om geld daaruit te maak.

Die geld word dan gedeeltelik gespandeer op tariewe en belasting, die verskaffing van dienslewering soos vullisverwydering en om water en elektrisiteit aan te skaf.

Op die laaste dag van hul slapie in die hok is dit Menseregtedag.

Dié twee groepe sal dan ook opstaan vir die diere se regte­.

Smaragda Louw van die BAT sê: “Die BAT glo nie dat die Oos-Londense dieretuin moet oop wees nie.

“Daar is niks wat enige iemand kan leer deur na ’n dier te staar nie.

“Intussen suffer daardie arme dier en het sielkundige probleme.

“Ons glo ál die diere moet na plekke van veiligheid gestuur word en dat die spasie liewer gebruik word vir mense se genot sonder dat diere daaronder ly.”

  • Die Khoi-groep is bekend vir sy onkonvensionele manier van betoog. In 2017 het hy buite die Uniegebou in Pretoria geslaap en op ’n eet­staking gegaan totdat die destydse onderpresident, Cyril Rama­phosa, sy memorandum­ met eise ontvang het.

Die groep het onder meer geëis dat die term “coloured” ver­wyder word en dat sy taal tot een van die land se amptelike tale verhef word.

Laas jaar het Martin in ’n doodskis buite die Oos-Kaapse premier, Phumulo Masualle, se kantoor geslaap.

Martin en ander Khoisan-aktiviste het dié opspraakwekkende demonstrasie gedoen om die gewelddadige toestande van die Baaise noordelike gebiede uit te beeld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters