Verlede jaar
Keiserin van naald en gare gaan geen
STERF: Lillian Kayser was oral in die Oos-Kaap bekend vir haar naaldwerk.  ~ 

SY WAS geliefd deur baie en haar geaardheid en persoonlikheid het mense na haar toe aangetrek.

Lillian Kayser het dié week ná ’n lang siekbed afgesterf.

Die 65-jarige Kayser was haar hele lewe lank ’n kleremaakster.

Sy het in Uitbr. 28 in die Nor­therns gebly. Sy het haar besigheid ook daarvandaan bedryf.

Kayser was oral die Oos-Kaap gewild vir haar ontwerpe.

Mense het van so ver as Graaff-Reinet gereis om van haar dienste gebruik te maak.

Sy het gespesialiseer in trourokke, maar matriekmeisies was ook lief daarvoor om hul afskeidsrokke by haar te bestel.

Die vrou met die vlytige hande was net 15 jaar oud toe sy in ’n klerefabriek begin werk het.

’n Paar jaar later het sy haar eie naaimasjien aangeskaf.

Sedertdien het sy deur die jare spoguitrustings gemaak waarop mense baie trots was.

Kayser se oudste dogter, Nadeema Williams, beskryf haar ma as ’n nederige en hardwerkende dog ferm vrou.

Perfek

“My ma het prioriteit en aandag aan elke bestelling gegee, maak nie saak of die uitrusting net ’n paar rand of duisende rande werd was nie.

“Sy het seker gemaak alles is perfek.

“Ek sal my ma onthou vir die omgee-hart wat sy vir andere gehad het.

Haar linkerhand het nooit geweet wat haar regterhand doen nie.

“Ons as kinders sal stil sit en besluit hoe ons haar erfenis verder gaan vat.”

Benewens elegante vroueklere het Kayser ook uitrustings vir mans en seuns gemaak.

Sy’t boonop vir klante ’n huur-opsie gehad. By haar huis was daar ’n verskeidenheid uitrustings te huur.

Een van haar eienskappe is dat sy ’n vrou van geloof was wat baie lief vir die Here was.

Sy het haar geloof uitgeleef by die Congregational Kerk, waar sy ook as diakones gedien het.

Haar begrafnis­reëlings is nog nie afgehandel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters