3 maande gelede
Keet sê oor nuwe rol in transformasie
Prof. André KeetFOTO verskaf  ~ 

TRANSFORMASIE by die Nelson Mandela-Universiteit het die afgelope week ’n hupstoot gekry met die vestiging van ’n leerstoel vir kritieke studie in hoër onderwys (CriSHET).

Prof. André Keet staan aan die stuur van die leerstoel.

Keet speel ’n leidende rol in die bestudering, uitvoer en lei van transformasie binne hoër onderwys en bring baie ervaring na die posisie van CriSHET-voorsitter.

“Nadat ek die afgelope vyf jaar as ’n dosent in die Mandela-universiteitsruimte saamgewerk het, het ek gevind dit is die vrugbaarste van enige van die universiteite waar ek al was om die wetenskaplike basis van transformasiewerk te bou.”

“Mense hier het die afgelope tien jaar baie hard gewerk aan verdiepte transformasie in die universiteitsruimte. Die idee en toewyding aan ’n transforme­rende universiteit kom sterk na vore,” het hy gesê.

Volgens Zandile Mbabela, ’n universiteitswoordvoerder, het die universiteit op die leerstoel besluit in reaksie op transfor­masie in hoër onderwys en dekolonialisering. Hulle het terselfdertyd voorsiening gemaak vir die instelling daarvan.

“Dit vereis ’n dissiplinêre basis waaruit ons universiteite as maatskaplike instellings kan bestudeer en hoe hulle sinvol omskep kan word – gegrond op wetenskaplike navorsing en verwante programme.”

Keet het as voorsitter van die transformasie-toesigkomitee vir universiteite in Suid-Afrika en as lid van die Raad op Hoër Onderwys ’n institusionele én nasionale mening oor hoër onder­wys.

“As ons ons universiteite wil verander, moet ons dit doen deur middel van kennis, pedagogie en programwerk.”

Prof. Sibongile Muthwa, rektor, het gesê die universiteit se visie is om aktief betrokke te raak om ongelykhede binne en buite die akademiese gemeenskap reg te stel.

“Ware transformasie in hoër onderwys vereis dat ons nie net kyk na kwessies van regstelling, demokratisering, ontwikkeling en die gehalte van die univer­siteit nie; ons moet ook fokus op temas van institusionele kultuur, kurrikulum, navorsing, diversiteit, maatskaplike samehorigheid en insluiting en gemeen­skaps­betrokkenheid.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters