Verlede jaar
Kalf diep in die put
Aaklig: Een van die 1 050 puttoilette in die informele nedersetting.  ~ Verskaf

DIE DA in die Oos-Kaap het dié week by ’n oorsigbesoek aan Vastrap in die Baai bevind daar is meer as 1 000 puttoilette in dié informele nedersetting.

So sê Nqaba Bhanga, die Oos-Kaaps se DA-leier.

Bhanga is na Vastrap vergesel deur raadslid Masixole Zinto, die DA se woordvoerder vir infrastruktuur en ingenieurswese in die Nelson Mandelabaai-metro, en raadslid Rano Kayser, voorsitter van die kiesafdeling van die Northern Areas in Port Elizabeth.

Hulle het by dié besoek uitgevind daar word steeds 1 050 puttoilette in Vastrap gebruik.

Bhanga sê die DA gaan nou ’n skrywe rig aan die tussentydse burgemeester van Nelson Mandelabaai, raadslid Thsonono Buyeye, en ’n dringende oudit versoek van die getal puttoilette wat steeds in die Metro in gebruik is.

Volgens Bhanga het die ANC-beheerde regering vroeër gesê in die Metro moet 6 000 puttoilette nog verwyder word.

Hy sê die feit dat daar meer as 1 000 buckets in een gemeenskap gevind is, laat ’n mens twyfel oor die statistiek wat verskaf is.

Bhanga sê voorts Covid-19 kom ál meer deur die land voor en deeglike sanitasie is van uiterste belang om die verspreiding van die corona-virus te beveg.

Voorsien

Volgens Bhanga hou puttoilette ’n gesondheidsrisiko in en dit kan nie gedurende die wêreldwye corona-virus-krisis geïgnoreer word nie.

Ten spyte hiervan voorsien die munisipale begroting vir die 2020-’21-boekjaar net R373 miljoen vir sanitasiedienste aan die armes, aldus Bhanga.

Dit, sê hy, is in skrille kontras met die R620 miljoen (2016-’17) en R733 miljoen (2017-’18) wat die DA en sy koalisievennote beskikbaar gemaak het.

Volgens Bhanga is net R5 miljoen begroot om in die 2020-’21-boekjaar iets aan die bucket toilets te doen, al benodig die Metro R76 miljoen om die probleem op te los.

Bhanga sê die Metro gaan meer as R150 miljoen van die nasionale tesourie ontvang.

Dié geld vorm deel van die nasionale regering se Covid-19-verligtingsfonds.

Volgens hom gaan hy ’n skrywe rig aan Buyeye en hom versoek dat ’n deel van dié geld beskikbaar gestel word om van die bucket system ontslae te raak.

Verskeie ander politieke partye is genader vir kommentaar oor die toilet-penarie in die Baai.

Teen druktyd het hierdie partye egter nie van hulle laat hoor nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters