3 maande gelede
Hond weg oor ‘misverstand’
bedroef: Chantal Heymans sit by die vermiste Misty se hok en treur. Foto: THEO JEPTHA  ~ 

’N GROOT diereliefhebber van Uitenhage huil lang trane oor haar geliefde brak Misty, wat onlangs soos mis voor die son verdwyn het.

Chantal Heymans (33) het Vrydag gesê sy hoop en bid elke dag dat haar Misty-kind weer veilig en ongedeerd sal terugkeer huis toe.

Misty is al die afgelope twee jaar ’n lid van die Heymans-gesin en hulle kan nie hul lewe sonder dié geliefde tefie indink nie.

Die drama rondom Misty se verdwyning het verlede Dinsdag begin toe lede van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage haar opgelaai het om haar te laat steriliseer.

Misty se prosedure het vlot verloop en Heyman is laat weet dat sy Misty Woensdag tussen 16:00 en 17:00 kan gaan haal.

“Toe ek om 17:00 daar opdaag, het hulle my meegedeel die bestuurder het my Misty by die verkeerde adres gaan aflaai, maar hulle gaan reëlings tref om seker te maak sy kom huis toe.

“Die verduideliking was dat daar twee honde was wat dieselfde lyk.

“Misty is toe verkeerdelik afgelaai by ’n huis in Despatch.”

Toe Heymans die volgende dag gaan navraag doen, is sy ingelig Misty is gaan haal, maar sy het van die drywer se bakkie afgespring onderweg huis toe.

“Sy is nou al meer as ’n week weg. My hart is in stukke, want ek ken haar. As sy tussen vreemdes is, gaan sy treur en sy sal nie eet nie.

“Ek huil elke dag en ek is siek van bekommernis. My dogtertjie, Michaela, verlang ook na haar beste vriend.”

Heymans het intussen die informele nedersetting in Despatch (die omgewing waar Misty glo van die bakkie afgespring het) voos gesoek na Misty. Daar is ook ’n beloning uitgeloof.

’n Werker by die DBV wat verkies om anoniem te bly, bevestig Misty is steeds vermis.

vriende: Misty en Michaela is beste maatjies.FOTO VERSKAF
Waar is sy? Misty die brak het in die Despatch-omgewing vermis geraak. Foto: FACEBOOK

Volgens haar is Misty weens ’n misverstand by die verkeerde adres afgelaai ná haar operasie.

Sy sê toe hulle hul fout agterkom, het hulle haar gaan haal by die verkeerde adres.

Volgens die werker het Misty onderweg na haar regte eienaar van die bakkie afgespring en is sedertdien missing.

Die DBV het op sy Facebook-blad laat weet Misty is skoonveld en dat mense op die uitkyk moet wees.

Heymans se hoop het opgevlam toe iemand in reaksie op ’n Facebook-inskrywing laat weet het hulle het Misty opgespoor, maar dit was toe al die tyd nie sy nie.

“Toe Misty kleintjies gehad het, het sy melkkoors opgedoen. Ek het haar in die bed laat slaap en haar gevryf met olie om te genees ná haar bevalling.

“My hartsbegeerte is dat my Misty-kind huis toe kom.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters