13 dae gelede
Hof besluit dié week oor nuwe mayor
Bobani praat buite die Humewood-polisiekantoor met die media. Foto: Werner Hills  ~ 

DIE saak waarin die DA beweer Mongameli Bobani is onwettig as mayor verkies, word Donderdag in die Baaise hooggeregshof aan­gehoor.

Die DA het die Vrydag ná die raadsvergadering van 27 Augustus ’n hofaansoek ingedien om die voortsetting van die vergadering waarin die nuwe burgemeester, Bobani (UDM), gekies is, nietig te verklaar.

Athol Trollip (DA) is in dié ver­gadering met ’n mosie van wantroue as burgemeester verwyder.

Die ANC-koalisie het toe dadelik ’n nuwe onderburgemeester, ’n speaker, hoofsweep en burgemeesterskomiteelede aangestel.

Die DA-koalisie sê ingevolge die wet moes die stadsbestuurder, Johann Mettler, die verkiesing van die speaker lei.

Nadat Mettler die raadsaal verlaat het oor die vergadering nie ’n kworum gehad het nie, het Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), volgens die DA-koalisie “foutiewelik artikel 36(3) aangehaal en ’n individu aangewys om een item te lei – die verkiesing van die speaker”.

Aangekom

Net wanneer die bestuurder nie beskikbaar is nie, moet bogenoemde LUR iemand aanwys.

Die DA-koalisie sê dat Mettler egter heeltyd beskikbaar was tydens die “onwettige voortduring” van die raadsvergadering.

Buyelwa Mafayi, die speaker, is gekies sonder dat Mettler by was.

Laas Vrydag het afgevaardigdes van Cogta in die Baai aangekom. Hulle wou ’n vergadering belê met die ANC-koalisie, maar dié het hulle nie ontmoet nie. Die afgevaardigdes sal ondersoek instel na die “onwettige” vergadering.

Bobani het vroeër dié week gesê die nuwe leierskap sal die hofaansoek teenstaan en het reeds hof­dokumente ingehandig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters