2 maande gelede
Hie kô die Alabama van destyds
Juanita Windvogel  ~ foto verskaf

STRICTLY langarm, soos in die dae van die Alabama-hotel, ook bekend as die Alla.

Dís na wat Juanita Windvogel van Lorraine en haar choreograaf-dogter Kehly almal wat die Alla se dansvloer jare gelede warm gedans het, nooi.

Sy versoek almal wat belangstel om hul fancy klere aan te trek en Vrydag die “Alla-era” te kom herleef.

Juanita sê: “Dis hartseer dat daar nie meer ’n plek is waar net langarm gedans word soos in die ou dae nie.

“Ons hou Golden Oldies, maar dis nie dieselfde nie: Daar word net twee langarm-songs gespeel, en dis ál.

“Ek wil so graag daai era herleef toe almal smart aangetrek het en gaan dans het. Ek wil wat uitgesterf het, laat herleef.”

Die Alabama-hotel in Thorogoodstraat in Korsten was op sy dag ’n gewilde bymekaarkomplek vir oud en jonk.

Herinneringe

Die hotel se reputasie as “die enigste plek waarheen ’n mens kan gaan” en “die sentrum van vermaak” het geduur van sy ontstaan in 1953 tot die Northern Areas Uprising in Augustus 1990 toe ’n brand dit erg beskadig het.

Ouer inwoners het hul herinneringe die week met Son op Sondag gedeel.

Henry Cairncross en Noel Julies bestempel die dansvloer as “die beste en grootste nóg in die Suide­like Halfrond”.

Selwyn Francis onthou Woens­dag­aande was die main aande vir langarm.

Verskeie sportlui en onder­wysers onthou die Alla nog as die plek waar kollege- en skooldanspartye, klub­toekennings, Diwali­ Queen-kompetisies en kerkdanspartye gehou is.

Merveleen Fisher skryf alle skooldanse is daar met live bands gehou.

Merveleen vertel: “Ek onthou mense het in Searle Road af geloop met beehives, vals oogwimpers en egte pelsjasse. Nie fake nie: eg.

“My ma was een nag so opgedress ek het haar nie herken nie.”

Cecile Arnolds onthou die orkeste: Royal Sounds, Sally’s Jazz Band, The Ritz Band en Bellaires.

James Ritzenberg skryf dat die dragkode streng formeel was en dat kappies en hoede nie toegelaat is nie.

James vertel: “Die genotvolste dans was die ballon­dans, waarmee pryse gewen kon word.

“Daai dae was fun en ná alles kon ons veilig huis toe stap. Ons sal daardie dae nooit terugkry nie. Die Alabama se dansvloer is weg, maar my dans is nog daar.”

Ander skryf hulle dra baie ge­heime van die Alla met hulle. Dan word die red room en blue room onthou. En Tot en Long, die bouncers wat moeilikheidmakers goed met ’n knuppel bygedam het.

Asvaal

Juanita sê die eerste langarmdans sal Vrydagaand in die Old Tramways-gebou aangebied word. Toegang is R40 per persoon.

Sy nooi almal uit om hulself mooi te maak, op te dress en die dansvloer asvaal te kom dans.

Die musiek sal deur DJ Cedda verskaf word. Die ryk klanke van Herbie Jacobs se saxofoon sal ook bydra tot die luistergenot.

Bel Juanita by 072 989 5759 vir meer inligting.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters