Verlede jaar
Grot vol tekeninge van groot waarde ...
HIER IS DIT: Alverdo Barends is beslis nie min opgewonde oor die ontdekking van die grot en die onmeetbare kul­turele en historiese waarde daarvan nie.  ~ Theo Jeptha

DIE eerste nasie van Suid-Afrika is beslis nie min opgewonde nie nadat ’n grot met Khoi-tekeninge van onskatbare waarde herontdek is.

Dié rotstekeninge gaan nou deel uitmaak van die Nasionale Khoi- en San-erfenisroete-inisiatief om die goue geskiedenis van die eerste inwoners met die res van die land te deel.

Die Khoi-grot is onder die Van Stadensrivierbrug, net buitekant Port Elizabeth.

Dit word agter tralies bewaar. In hierdie stadium is dit nie seker wie die tralies daar opgerig het nie.

Wat wel duidelik is, is dat dié ontdekking toerisme en die rol wat die Khoi-gemeenskap in ons land se samelewing speel, sal bevorder.

Alverdo Barends, ’n plaaslike inwoner, sê: “Dit is baie goeie nuus. Ek wens ons kan ’n groot bewusmakingsveldtog hieroor doen sodat ál die mense van die Northerns die goeie nuus kan ontvang.

“Dit sal great wees as ons regering groot Khoi-billboards kan opsit sodat ons mense kan weet van die Khoi- en San-erfenisroete.

“Ek kan ook nou sê dat ons voorouers uiteindelik erkenning kry vir ons kultuur.”

Paramount chief Gert Steenkamp van die Oeswana-huis in die Oos-Kaap beaam Barend se opgewondenheid.

“Dit is absoluut wonderlike nuus vir die Khoi en San.

“Ons was vir jare onderdruk. Die feit dat die roete nou amptelik deur die regering erken word, kan net voordele vir ons inhou. Dit het die potensiaal om werksgeleenthede te skep,” sê Steenkamp.

Christian Martin veg al jare vir die erkenning, behoud en instandhouding van die Khoi en San se geskiedenis.

Ook Martin sê hy is oorstelp dat die ryke geskiedenis van die Khoi deur ’n Khoi-roete erken en vereer gaan word.

“Ons is die eerste nasie van Suid-Afrika wat tesame met die res van die ander nasies ons land wil bou.

“Die roete gaan vir ons mense baie meer van ons tradisies leer. Ek wil graag ons voorlopers bedank.

“Mense wat die harde werk voorheen gedoen het, is Khoi-leiers soos chief Human, chief Coetzee, chief Steenkamp en chief Maleba. Hulle kan regtig met hul koppe hoog loop.

“Die ware erkenning gaan wees die dag wanneer die regering vir ons grond gee met vee waar ons ons tradisies weer kan uitoefen met diere soos die eland, wat baie beteken vir ons as die eerste nasie,” sê Martin.

Plekke

Die kabinet het die Nasionale Khoi- en San-erfenisroete laas maand goedgekeur.

Dit gaan ’n landswye erfenisroete wees en plekke van kulturele en historiese belang sal geïdentifiseer en bewaar word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters