2 maande gelede
Goeie verhoging is regte
kwaai: Sowat 64 Alpha Pharm-werkers strike sedert Dinsdag oor lae verhogings en ongenoegsame bonusse.Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

HULLE soek ’n ver­hoging van 9% – finish en klaar.

Daarom het nagenoeg 64 werknemers van die Alpha Pharm-apteek dié week buite die Port Elizabeth-tak in Noordeinde in die Baai gestaak.

Die werknemers het gesing en met posters hul griewe uitgewys. Dit is wettig en dis net die Baaise tak se werkers wat strike.

Volgens Siyabonga Willie (35) van Motherwell, ’n werker, het die maatskappy hulle vroeër in Augustus meegedeel hulle kry vanjaar net ’n salarisverhoging van 5,5%.

Boonop gaan die werkers net 50% van hul Desember-bonusse kry.

Dit is volgens die werkers te min en hulle voel dis moeilik om kop bo water te hou.

Die meeste werkers is die enigste broodwinners in hul huishoudings.

Alpha Pharm, hul werkgewer, ontvang, verskaf en versprei medisyne op groot skaal.

“Ons het Dinsdag begin strike. Die onderhandelinge het in Junie begin, maar hulle het ons te min aangebied.

“Ons het sedertdien die saak na die CCMA toe gevat en hulle hanteer tans die saak.

“Daarna het die maatskappy steeds nie die ver­hogings verander nie.

“Ons vra nie vir wonderwerke nie en ons versoek is redelik,” verduidelik Willie.

Die Chemical, Energy, Paper, Printing, Wood and Allied Workers Union (Ceppwawu) is ook by die strike betrokke. Die meeste werkers is lede van dié vakbond.

Angelique Klaassen (40) van Bloemendal is geskei en sorg vir haar drie kinders en sieklike ma.

“Ek is die huis se enigste broodwinner. Hulle wil ons net twee weke se bonus in Desember gee.

“Ek moet nog die kinders se skoolklere koop en skoolgeld betaal, en dis duur. Ek moet ook my ma se pille vir suiker en hoë bloeddruk elke maand koop, en ek betaal skuld af,” kla Klaassen.

Sy voeg by ’n 9%-verhoging sal haar met ’n goeie gemoed laat opstaan in die oggend.

James Higgens (50) van Salt Lake werk al 26 jaar by die maatskappy.

“In ál die jare dat ek hier gewerk het, het ons nog nooit meer as ’n 7%-verhoging gekry nie.

“Hulle het wel laas jaar van ons Desember-bonus verminder, maar vanjaar is dit die helfte minder.

“Ek het onlangs ’n huis gekoop wat ek moet afbetaal.

“Ek, my twee seuns en my vrou woon saam.

“Ek wil net vir hulle kos op die tafel kan sit,” sê Higgens.

Catherine Adams (51) van Chatty, wat al 26 jaar vir Alpha Pharm werk, voel dis unfair om die werkers so min geld te gee.

“Ek voel baie ongelukkig hieroor. Al die pryse van goedere gaan op, selfs die VAT.

“Ek wil nie net ’n halwe bonus hê nie, want ek moet sorg vir my man en drie kinders by die huis.

“Ek betaal reeds duisende rande vir my vervoer werk toe en my kinders se vervoer skool toe,” verduidelik Adams.

Willie sê hoewel daar ’n paar werkers is wat in dié stadium in die Port Elizabeth-tak werk, word daar nie veel uitgerig nie omdat die meeste steeds op strike is.

Werner Fick van Alpha Pharm se HR-departement, het na Son op Sondag se navrae geluister en net gesê: “Geen kommentaar nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters