Verlede jaar
Girl (12) se vlamdood ruk gesin
Desnell Stevens (12)FOTO verskaf  ~ 

‘MY PA is hier! Hy kom haal ons,” het wyle Des­nell Stevens en Desnay, haar sussie, uitgeroep in die droom van hul ma, Ronelle Petrus, se boyfriend.

Desnell (12) van Harringtonstraat, Arcadia, is dieselfde aand grusaam dood toe die plakkershut waarin sy en Desnay (11) geslaap het, uitgebrand het.

Sandra Fillis, die wyksraadslid, Rano Kayser, die DA-raadslid wat oor die Northerns toesig hou, en Kristoff Adelbert van die kantoor van die burgemeester, Athol Trollip, het die gesin Vrydag besoek.

Raadslid Fillis staan die gesin sedert die tragedie by.

Razzaq Hart, die ma se boy­friend, vertel hy’t Dinsdag­oggend gedroom dat hy na Ronelle in die yard kom.

“In die droom was haar twee kinders (Desnell en Desnay) nog klein. Sy (Ronelle) het ’n baby vasgehou, maar dit het gelyk asof sy huil.

“En die twee van haar kom na my toe aangehardloop en skree: ‘Razzaq, Razzaq, my se pa is hier. Hy kom haal ons. En net daar het ek wakker geskrik.”

Hart voeg by hy het Zaakiya (5), hul dogtertjie, vir die skool gereed gemaak. Op pad terug van die skool, waar Ronelle chips verkoop, het hy haar van die droom vertel en gesê hy wonder wat die droom beteken, terwyl hy sy emosies probeer beheer.

Die ma sê alles het so gou gebeur.

Sy vertel sy het net vinnig die movie Gatvol by Hart se huis ’n paar huise verder gaan haal.

“Die kinders wou die movie kyk. Toe ek by die huis uitkom, op pad huis toe, toe skree my suster: ‘Nonna, Nonna, jou plek brand!’

Vlamme

“Ek het ingehardloop. Toe hardloop ek na die tap toe. My hond is ook gebrand.

“Ek het toe die venster stukkend gekap om water te gooi waar die vlamme was. Dis toe die vlamme my gesig brand.”

Ronelle voeg by dat sy nie ’n geluid in die shack gehoor het terwyl almal gespook het om die brand te blus nie.

Hart sê Zaakiya is baie sterk en troos haar ma.

Anneleen Stevens, Ronelle se tannie, sê Zaakiya sê Desnell is na Allah toe. Volgens Anneleen was Desnell ’n jolige kind wat van grappies gehou het.

“Sy was lief vir skoolwerk en het daarna uitgesien om volgende jaar met gr. 8 te begin. Sy en haar ma was beste vriendinne.

“Sy was ook lief vir die Sondag­skool by die Ou Apostoliese Kerk.

“Sy was lief vir eet en as sy daaroor aangespreek word, antwoord sy: ‘It’s part of life.’

“Desnay slaap saans by my huis in Hillside, want wanneer daar te veel mense by die huis is, kan sy dit nie vat om die gebeure weer te herleef nie. Sy sal ’n sielkundige moet sien.”

Kayser en Adelbert het namens Trollip hul steun aan die gesin bewys. Hulle het gesê “hul pyn is ook die hele Metro se pyn”.

Hulle het kos, klere en ander benodigdhede vir die gesin geneem.

Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie. Fillis sal vanaf môre die gesin bystaan met alles wat nodig is om die begrafnis te reël.

Johannes Fortuin, eienaar van Fortuin-begrafnisondernemers, het gesê indien die gesin nog hulp nodig het, sal hy hulle baie graag wil help.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters