11 dae gelede
Gesondheid: Betaling en voorwaardes aangepas
HELEN SAULS-AUGUST Foto: MBULELO SISULU/DAILY SUN  ~ 

MEER as 5 000 gemeenskaps­gesondheidswerkers sal baat by die miljoene rande wat deur die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement bestee sal word.

Dié geld sal gebruik word om die betaling en diensvoorwaardes van dié werkers te verbeter.

Dit vorm deel van die implementering van die Sektorale Bedingingsraad vir Openbare Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling se resolusie oor die normalisering en vergoeding van gemeenskapsgesondheidswerkers in die departement.

Die ooreenkoms in die raad was dat alle gemeenskapswerkers met matriek of ervaring ’n stipendium van R3 500 per maand sal kry, wat deur Persal (die personeel- en salarisinligtingstelsel) betaal sal word.

Dis ’n verhoging van R500 teenoor wat die departement voorheen betaal het. Tot nou het die pro­vinsiale departement R23 328 miljoen aan gemeenskapsgesondheidswerkers betaal wat terugdateer na Junie verlede jaar.

Ruggraat

Die departement het altesaam 5 184 gemeenskapsgesondheidswerkers wat keuringsveldtogte doen, primêre gesondheidsorg voorsien en geïdentifiseerde gevalle na die relevante dienste verwys.

“Gemeenskapsgesondheidswerkers het die ruggraat van ons gesondheidsorg-sisteem geword, en het veral seker gemaak dat ons diegene opspoor wat nie gebruik maak van vigs- en TB-behandeling nie.

“ Dié (verhoging) is ’n groot stap na die werksekerheid van werkers en dat hul toelae in lyn is met die minimum loon,” sê die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Helen Sauls-August.

Die ooreenkoms vorm deel van ’n nuwe kontrak vir die nuwe finansiële jaar en sluit in die besluit oor die verhoging na R3 500 en verlofvoordele. Die werksdae per week, wat bestaan uit agt ure per dag, is ook vermeerder van drie na vyf dae.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters