20 dae gelede
Dogter ‘besoek’ ma in hospitaal ná dood
STACEY CORNELIUSFOTO VERSKAF  ~ 
VERLANGE: Lisle Douglas het laas jaar vrede gevind – sewe jaar nadat Stacey, haar dogter, vermoor is.
ONTHOU: Lisle en Danie Douglas vertel van hul trauma nadat hul dogter vermoor is, en van die reis na vrede.Foto’s: THEO JEPTHA
STACEY CORNELIUSFOTO VERSKAF

’N MA van Algoapark het talle sielkundige insinkings beleef ná haar kind se moord – totdat sy haar oorlede dogter in die hospitaal “gesien” het.

Lisle Douglas (50), ’n welstandskoördineerder, was juis weer in die Hunterscraig-hospitaal toe dié draaipunt vir haar kom.

Sedertdien het sy nog nie weer die binnekant van ’n hospitaal gesien nie.

Haar dogter, Eustacia “Stacey” Cornelius (18), se lyk is in ’n bos naby die Uitenhage-pad in Nooit­gedachtweg gevind. Sy is verbrand.

Danie, Stacey se stiefpa, sê hy en Lisle was op 26 November 2010 uit.

Vermis

Toe hulle laat tuis kom by die Aloes-woonstelle waar hulle daai tyd gebly het, was hul dogter, wat nog haar matriekeksamen aan’t skryf was, nie tuis nie.

Toe hy in die middel van die nag opstaan en sien sy is nog nie tuis nie, het hy uneasy gevoel.

Die gevoel het nie gewyk nie en hulle het Stacey die volgende dag – ’n Saterdag – as vermis gaan aanmeld.

“Ek het die Sondag geknak toe ek niks van haar hoor nie. Ons het die Saterdag al posts op Facebook geplaas dat sy vermis word.”

Danie voeg by hulle het oral rondgery en gesoek.

Die egpaar is die Maandag na die Hoërskool Linkside om die skool in te lig dat sy vermis is. Sy moes haar laaste vak, musiek, daardie dag skryf.

“Terwyl ons by die skool was, het die polisie vir Danie gebel. Ons het by die Bethelsdorp-polisie­kantoor gekom en Eugene, my skoonsuster, daar gekry.

“Die Son het die Maandag ’n voorbladstorie gehad oor Stacey wat vermis is.”

Lisle sê die polisie het ook die voorblad gesien. Hulle het ’n lyk gevind en wou vasstel of daar nie ’n link is nie.

“Danie, Meneer (eerwaarde Johnny Thomas) en Eugene is toe mortuary toe.

“Hulle het net vir Danie en Meneer toegelaat.

“Hulle het vir my die earrings gebring wat sy gedra het, want dit was my earrings wat sy aangehad het.

“Ek kon stukke van die kledingstukke herken. Daarna toe weet ek nie meer wat óm my aangaan nie.”

Lisle sê sy het nou nog die geheel en al closure gekry nie, aangesien die omstandighede om haar kind se dood nog onbekend is.

Sy het egter vrede.

“Vanaf 2010 tot Mei 2017 is ek elke jaar vir twee weke in Hunters­craig opgeneem wanneer ek ’n setback gekry het.

“Verlede jaar Mei het my sielkundige én my psychiatrist vir my gevra hoekom ek nie na haar (Stacey) in die geestesrealm roep nie.”

Lisle voeg by mense sal seker sê sy is nie reg bo nie, maar sy het haar teenwoordigheid aan­gevoel.

“Daai week in Hunterscraig het ek ’n enkelkamer gehad. Daai aand het ek regtig gebid, want ek het stukkend bed toe gegaan oor die non-closure issue.

“Toe ek gaan lê, het ek gebid en vir die Here gevra om my net daai een iets te gee om my te laat weet sy is oukei.

“Ek het ’n presence in die kamer gevoel, maar dit was nie scary nie. Daar was vrede. Ek het haar langs my op die bed gevoel, met haar kop op my bors.

“Ek was daarna nog nooit weer in die hospitaal nie.”

Krediet

Sy sê Danie en hul kinders het haar deur dik en dun bygestaan.

Sy gee ook krediet aan haar kerk, die Mary Geldenhuys Congregational-kerk, wat haar ondersteun het deur ál die jare ná Stacey se dood.

Lisle sê verlede jaar in Augustus het sy Stacey se skoolmaats genooi om haar lewe – op wat haar 25ste verjaarsdag sou wees – te vier.

Danie voeg by Stacey se oom is vir haar moord gearresteer, maar hy is kort daarna in ’n motorongeluk dood.

Lisle meen daar was ander mense ook betrokke omdat hy dit nie alleen sou kon doen nie.

“Ek het hulle lankal vergewe, maar daar sal ’n dag kom wanneer hulle my moet vra om hulle te vergewe.”

Haar raad aan ander ouers wat al deur dieselfde trauma gegaan het, is om hulself genoeg tyd te gee om te rou.

“No one can determine anyone else’s grief.

“Dit vat tyd om deur grief te kom – of dit 20 jaar of ’n maand gaan neem. Dit raak draagliker.

“Wanneer ek aan haar dink, is dit met fondness.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters