3 maande gelede
Die skool is uit vir onnie
’n leeftyd: Lettie Fick se man, Freddie, gee haar ’n soentjie nadat sy 39 jaar lank skoolgehou het. Foto’s: theo jeftha  ~ 

AS SY weer kon kies, sou sy definitief weer die onderwys as beroep kies.

Want, sê Lettie Fick (60) wat ná 39 jaar as onderwyser by Dr. A.W. Habelgaarn Primêr in Bloemendal aftree, was dit absoluut wonderlik om saam met kinders te werk.

Fick sê sy sou nooit kon dink die dag sou aanbreek dat sy tot siens sou sê aan haar geliefde skool nie.

Sy sê: “Elke dag was net ’n vreugde vir my om aan te meld vir diens. Om die kindertjies elke dag te sien en hulle te help het bevrediging aan my verskaf.

“Van my hoogtepunte was om goeie prinsipale te hê wat die visie van die skool kon bevorder. Ek was ’n liggaamlike-opvoeding-onnie, en om te sien hoe die leerders dit groot maak in sport nadat hulle van my hande af gekom het, was genoeg vir my.”

Volgens Fick was ’n laagtepunt toe die skool so erg gevandaliseer is daar sprake was dat die skool sou toemaak. Sy was egter instrumenteel in die heropbou van die skool tot waar dit vandag een van die mooiste skole in die Northerns is.

“Vir ons as onderwysers was dit fantasties om te sien dat daar dokters, prokureurs, verpleegsters en besigheidsmanne onder ons hande uitkom.

“My wens is dat die kinders ’n visie moet hê, positief moet bly en respek te alle tye behou.”

Roeping

Saam met Fick tree die 60-jarige Delicia Cox ook by dieselfde skool af.

Cox se boodskap aan enigeen wat voel hulle is te oud om te studeer, is om nooit tou op te gooi nie.

Cox het in 2013 as 53-jarige aan die NMU gegradueer.

Sy het in 2008 die Early Childhood Development-klasse by die Primêre Skool Sapphireweg in Booysenpark behartig voordat sy haar as ’n volwaardige onderwyseres bekwaam het. Daar het sy baie hoogtepunte met die skool bereik.

“As ek kon kies, sou ek van ’n jong ouderdom af wou onderwys gee. Ek glo dat onderwys ’n roeping is en dat God dit vir my bestem het om die laaste paar jaar voor aftrede die heerlike diens te kon vervul.

“Dis lekker om te sien jy maak ’n impak op die kinders. Ek sal graag vir hulle wil sê om nooit tou op te gooi nie en hard daarna te strewe om hulle doel in die lewe te bereik,” het sy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters