17 dae gelede
‘Die personeel was te min, nou is my kind dood’
Brenden van Heerden
Brenden van Heerden  ~ Verskaf

’N GEBROKE mamma van Uitenhage sê as daar genoeg hospitaalpersoneel aan diens was, sou haar 12-jarige seun nog gelewe het.

Nou is Johanna Mostert (64) in sak en as nadat sy haar aangenome seun aan die dood moes afstaan.

Sy het Branden van Heerden aangeneem toe hy ’n baba was en hom grootgemaak en liefgehad soos haar eie.

Ongelukkig is Branden gebore met fisieke gebreke en ’n longtoestand. Dit het ook sy hart aangetas.

Hy kon nie buite speel soos ander kinders nie en kon nie praat of vir homself sorg nie. Later in sy lewe was hy in ’n rolstoel.

Mostert vertel dat Branden sedert kindsbeen in en uit die Netcare Cuyler Hospitaal in Uitenhage was.

Soms sou dit goed gaan, maar dan kom daar weer komplikasies.

“Partykeer was hy net ’n week by die huis voordat hy weer hospitaal toe moes gaan.

“Maar dié jaar was eintlik ’n goeie jaar – hy was vier maande by die huis,” vertel Mostert.

Daarom het dit haar en Branden se suster, Charoldene Smit (24), hard getref toe hy in Mei vanjaar weer daar opgeneem is.

Dit het gelyk asof hy sukkel om asem te haal. Volgens Mostert het die dokters gesê hy het ’n blokkasie in sy longe ontwikkel.

Hy was drie weke by Cuyler en het toe vir ’n week huis toe gekom, maar is daarna vir die laaste keer in sy lewe opgeneem.

Brief

“So iemand kort 24 uur ’n dag bystand. Ons het hom gevoer en selfs ’n monitor en suurstofmasjien by die huis gehad,” beklemtoon Mostert.

Sy sê oor die jare het sy agtergekom die hospitaal is volgens haar understaffed. Sy het al op 12 Augustus 2014 ’n brief hieroor aan die hospitaal se bestuur gerig.

Mostert sê hulle het nooit teruggekom na haar toe nie.

Op 15 Junie vanjaar was daar volgens haar weer ’n tekort aan personeel. Dit is die dag toe haar kind gesterf het.

“My kind het ewe skielik geskree en ek het uitgehardloop om iemand te gaan roep. Die dokter was nie daar nie. Ek het aan die nurse se deur gaan klop. Dis net sy wat daar was. Daar was nog twee ander personeellede wat later bygekom het. Hulle moes iemand in sy bed gesit het,” onthou Mostert.

Hulle het Branden probeer help, maar kon niks verder vir hom doen nie.

“Ek weet hy was siek en die Here het hom kom haal. Maar as daar meer personeel aan diens was, sou hy dalk vandag nog gelewe het,” huil Mostert.

“Ek het nie ’n probleem met die personeel daar nie, hulle werk regtig baie hard.

“Ek het ’n probleem met die bestuur wat min mense laat werk.”

Ná die ordeal het die verpleërs se diensbestuurder, Mpumi Madlingozi, met Mostert gesimpatiseer, maar sy sê dis te laat.

“Ek het al hoeveel jaar terug gekla en ’n brief geskryf. Hulle moet hulleself regruk,” sê Mostert.

Reon van Rensburg, die Netcare Cuyler Hospitaal se algemene bestuurder, sê die mediese span en verpleërs was almal baie sad oor Branden se sterfte. Hy bevestig dat Branden op 15 Junie gesterf het nadat hy in die pediatriese hoësorgeenheid opgeneem is.

“Namens die dokters, personeellede en bestuur van die hospitaal wil ons weer ons medelye betoon aan die familie vir hulle tragiese verlies.

“Ons wil Branden se familie verseker die dokters en verpleegpersoneel het alles menslik moontlik gedoen om sy lewe te red,” sê Van Rensburg.

Die hospitaal sê egter die stelling is foutief dat daar nie ’n dokter aanwesig was op die dag toe Branden oorlede is nie.

Van Rensburg sê Branden was onder die sorg van ’n pediatriese dokter.

Verder was ’n praktisyn van die hospitaal se mediese noodafdeling by toe Branden ’n noodlottige hartaanval gekry het.

Verder sê hy ervare verpleërs met gevorderde life support skills en die bestuurder van die pediatriese hoësorgeenheid was persoonlik betrokke by Branden se verpleging op die dag van sy sterfte.

“Ons wil dit duidelik stel dat die personeelbestuurmodel wat gebruik word om die getal en kategorie van verpleërs by die Netcare Cuyler Hospitaal te bepaal, gegrond is op die internasionale riglyne vir beste praktyk.”

Teenwoordig

Hy sê hulle het gekyk hoeveel personeellede aan diens was op die dag van Branden se sterfte en hulle is tevrede hulle het die gepaste getal personeellede in gegewe kategorieë in die departement gehad.

“Daar was altesaam ses verpleegpersoneel, insluitend geregistreerde verpleërs teenwoordig,” voeg Van Rensburg by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters