17 dae gelede
Departement blus vure oor seks
Elijah Mhlanga Foto: TWITTER  ~ 

DIE beweerde gewaagde seksopvoeding wat in 2020 aan Suid-Afrikaanse leerders onderrig gaan word, het mense op hol.

Daar is rumours dat laerskoolkinders al gaan leer van masturbasie en hoe om mekaar se geslags­dele te identifiseer.

Daar is selfs gerugte dat leerders hulle siening moet gee oor die stuur van foto’s op WhatsApp waar jy bostukloos is.

Maar die departement van basiese onderwys sê dié rumours is verwronge.

Elijah Mhlanga, departementele kommunikasiehoof, het Dinsdag gesê hulle verwerp die voortdurende misleidende berigte oor 2020 se lewensoriëntering-kurrikulum.

“Ons het met kommer opgemerk ’n sekere organisasie mislei die publiek aanhoudend deur die verkeerde inligting te publiseer. Dit veroorsaak onnodige verwarring en paniek onder Suid-Afrikaners.

“Die departement van basiese onderwys wil graag herhaal dat daar geen nuwe inhoud bygevoeg is by die lewensoriëntering-vakke in skole nie.

“Die omvattende seksopvoeding maak sedert 2000 deel uit van die kurrikulum,” sê Mhlanga.

Die gerugte oor gr. 4-leerders wat mekaar se geslagsdele moet identifiseer, het veral die tonge los.

Maar die departement sê die lesse handel eintlik net oor respek vir ander se liggame, en watter dele van die lyf privaat is en nie aan geraak mag word nie.

Gr. 5-leerders gaan luidens gerugte geleer word oor lesbiese verhoudings, molestering deur persone van dieselfde geslag en seksuele aanranding.

Mhlanga sê onder meer hieroor: “Gr. 5’s se onderwerpe in die program sluit in liggaamsbeeld, kindermishandeling, wat seksuele geweld is en hoe om die stigma van MIV te hanteer.

“Die les gee ook die leerders vaardighede om met seksuele geweld te deal en waar om hulp te kry.”

Nóg ’n gerug lui dat gr. 6-leerders se opinie oor sexting op selfone gevra gaan word.

“Dit is nie waar nie. Gr. 6-leerders word geleer oor cyberbullying en die les maak gebruik van scenario’s om leerders te leer dat die stuur van vieslike of vernederende boodskappe op die internet of in die sosiale media, verkeerd is,” voeg Mhlanga by.

Verder word daar beweer gr. 7-leerders gaan leer van masturbasie en dat dit normaal is.

Die departement sê die lesse handel oor die veranderinge waardeur adolessente tydens puberteit gaan.

Die lesse verwys leerders na hulle ouers of dokter om verdere vrae te stel, hetsy oor soenery, dating, masturbasie en seks.

In gr. 8 gaan leerders se onderwysers na bewering vir hulle beskryf wat gebeur tydens vaginale, orale en anale seks.

Die leerders sou na bewering “seksuele helde” of “rolmodelle” gegee word.

Mhlanga sê egter: “Daar is geen sulke lesse of aktiwiteite vir gr. 8’s nie. Geen seksuele helde en rol­modelle word enigsins in ons kurrikulum genoem nie.

“Dit is ’n blatante leuen.”

Hy sê gr. 8’s gaan wel leer oor gesonde seksuele besluite en om hulle perke te ken.

Daar is ook berig die leermateriaal vir gr. 9’s minimaliseer die belangrikheid van heteroseksuele verhoudings ten gunste van homoseksualiteit en transgender mense.

Mhlanga sê egter die gr. 9’s se lesse sluit in die stel van doelwitte, om een partner op ’n slag te hê, gereedheid vir ouerskap, die instemming tot seks, en mag en beheer in verhoudings.

Die departement sê hy het navorsing gedoen oor die noodsaaklikheid van seksopvoeding in skole.

Mhlanga verwys na ’n studie wat lui ’n derde (35,4%) van meisies en seuns ervaar seksuele geweld voor die ouderdom van 17 jaar.

“Die departement is verskriklik bekommerd oor dit blyk dat jong mense op ’n jonger ouderdom begin seks hê.

Statistieke

“Daar blyk ook toenemend gewaagde seksuele gedrag onder jong mense te wees, terwyl kennis oor MIV-voorkoming onder leerders gedaal het.

Volgens Mhlanga neem die aantal adolessente wat in seksuele verhoudings met ouer persone is, ook toe.

Statistieke van die departement toon dat daar van April 2017 tot Maart 2018 altesaam 117 010 tienerswangerskappe was.

Sowat 2 716 van dié meisies was tussen 10 en 14 jaar oud.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters