17 dae gelede
Daniels kap mayor oor 'verraad'
beter dae: In Junie vanjaar het burgemeester Mongameli Bobani vir raadslid Marlon Daniels aangestel as die maycolid vir ekonomiese ontwikkeling en tradisionele sake. Daniels sê egter nou vir Bobani sleg oor hy volgens Daniels lieg. Foto: theo jeptha  ~ 

BOBANI se reply op WhatsApp was ’n prentjie van ’n kopbeen.

Rdl. Marlon Daniels (PA) is nie baie impressed met die burgemeester van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit (NMBM), Mongameli Bobani (UDM), nie.

Dit volg nadat Bobani na bewering gelieg het oor ’n brief van die LUR van die departement van samewerkende regering, Xolile Nqatha.

Nqatha het op 25 Oktober ’n brief aan Bobani gerig oor die verkrummeling van administrasie.

Nqatha het Bobani sewe dae tyd gegee om te antwoord met redes hoekom Cogta in die Oos-Kaap nie die Metro se sake moet oorneem nie.

Sy tyd het Vrydag verstryk.

Maar Bobani ontken hy’t hierdie brief – wat per hand, e-pos en faks aan sy kantoor gestuur is – ontvang.

“My kantoor het geen besit van so ’n brief nie.

“Ek vra aan die eerbare LUR dat hy vir my die brief stuur waarna hy verwys sodat ek in staat kan wees om te antwoord,” het Bobani op 30 Oktober gesê.

Bobani het in ’n brief aan Nqatha die ontvangs van die brief ontken.

Hy het sommer die brief aan pres. Cyril Ramaphosa, die minister van Cogta, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, ook gestuur.

Daniels het skermgrepe van WhatsApp-boodskappe aan Son op Sondag verskaf wat Donderdagaand tussen hulle op die NMBM mayco-groep gestuur is.

“Bobani, ek is verby geskok om die brief te sien wat ontken dat jy ooit die brief van die LUR gesien of ontvang het.

“Hoekom speel jy speletjies tot die nadeel van die NMBM en sy inwoners?

Mislei

“Jy het ook die vermetelheid om die eerbare president in te copy?

“Hoekom buig of bars jy om almal te mislei en te verraai?” sê Daniels in die WhatsApp-groep aan Bobani.

Daniels sê sy kontakte in die kantoor van die LUR het aan hom bevestig dat die brief aan Bobani gestuur is.

“Ek kon dit nie glo nie, totdat ’n kopie van die brief (wat jy ontvang het) na my gestuur is.

“Die beste advies wat ek jou kan gee, in belang van ons almal en jouself, is om met onmiddellike effek af te staan. ’n Mens kan nie iemand so gecompromise soos jy verdedig nie,” kap Daniels ook.

Bobani het toe ’n prentjie van ’n grys kopbeen gestuur.

Toe Daniels vir Bobani vra wat die prentjie beteken, het Bobani net gesê: “Salute!”

Daniels het daarna ’n kopie van Nqatha se brief op die groep gestuur en gesê Bobani moet dit vir ’n tweede keer lees.

Nqatha se brief aan Bobani sal môre op ’n spesiale raadsvergadering bespreek word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters