Verlede maand
DA sê dié cocktail is ’n ramp
Oscar MabuyaneFoto: daily sun  ~ 
opskud: Meer drank-inspekteurs moet in die Oos-Kaap aangestel word.Foto: CORNELVAN HEERDEN/NETWERK24
ANDREW WHITFIELDFoto: ODETTE PARFITT/DIE BURGER
Oscar MabuyaneFoto: daily sun

DIE Oos-Kaapse Drankraad kan nie die verantwoordelikheid van die hoë misdaadsyfer in die provinsie ontsnap nie.

Só sê Andrew Whitfield, ’n DA-LP, wat ook die skadu-LUR is vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme.

Volgens Whitfield is daar ’n tekort aan drank-inspekteurs in die Oos-Kaap en dit dra by tot misdaad.

“Die oneffektiewe monitering en regulering van wettige en onwettige drankverskaffers weens ’n tekort aan inspekteurs, is ’n bydraende faktor vir alkoholverwante mis­dade.

“In 2016 is die ongehoorsaamheid van taverns aan die Drankwet aangehaal deur die provinsiale polisiekommissaris as die hoofoorsaak van die toename in misdaad,” sê Whitfield.

“In die lig daarvan is dit skokkend dat slegs 30% van die vereiste aantal drank-inspekteurs tans aangestel is om dié belangrike mandaat van die Oos-Kaapse Drankraad uit te voer.”

In repliek op ’n parlementêre vraag het die LUR van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, Oscar Mabuyane, bekend gemaak dat te min personeel by die Drankraad aangestel is.

Die Drankraad het net 16 inspekteurs, maar die vereiste getal inspekteurs is 45.

“Dit word vererger omdat ses senior inspekteurs ook administratiewe pligte uitvoer, en dít hou hulle uit die veld.

“Die katastrofiese kombinasie van die heersende werkloosheidsyfer in die Oos-Kaap en die tekort aan genoegsame inspekteurs om die toename in onwettige drankhandelaars te keer, is ’n resep vir ’n ramp,” meen Whitfield.

“Dit is wyd bekend dat alkohol bydra tot gewelddadige misdaad.

“In 2016 is ’n analise van moord­dossiere gedoen.

“Dit het getoon in 48% van die moorde in die land, was die slag­offers of oortreders onder die invloed.

“In dieselfde jaar het die helfte van die moorde in Suid-Afrika oor naweke plaasgevind, met 70% van die voorvalle wat tussen 18:00 en 20:00 gebeur het.

Wetteloosheid

“Ek gaan ’n skrywe rig aan die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme om navraag te doen oor hoekom die kritieke poste nog nie gevul is nie en wanneer dit gevul gaan word,” sê Whitfield.

“Die DA doen ’n beroep op die LUR om ’n stop te sit aan die oorsake van wetteloosheid in die provinsie, aangesien dit verband hou met die drankbedryf.”

Mabuyane sê die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme het in die 2016/2017-boekjaar 427 onwettige drankverskaffers toegemaak en in die 2017/2018-boekjaar was dit 536. Dit is altesaam 963 die afgelope twee jaar.

“Dít was omdat die besighede nie geldige drankregistrasie-sertifikate gehad het nie.”

In 2016/2017 is 475 nuwe drank­lisensies in die Oos-Kaap uitgereik, in 2017/2018 is 503 toegestaan en in die huidige boekjaar is tot en met 30 Junie sowat 111 uitgereik.

In 2016/2017 was daar altesaam 7 466 aktiewe dranklisensies, in 2017/2018 altesaam 7 279 en in 2018/2019 tot en met 30 Junie altesaam 7 036.

Daar is nie ’n spesifieke begroting vir die toemaak van onwettige drankverskaffers nie, maar dis ’n toepassing- en moniteringsfunksie van die departement.

Die begroting vir die uitvoer van dié funksies, insluitend die vergoeding van werknemers, was R18 910 000 in 2016/2017.

Volg Maryke Low op Twitter. Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters