3 maande gelede
Bouprojekte kan Baai verbeter
VOORSTELLING: Só sal die bruggie lyk wat oor die Baakensvallei-rivier sal loop. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Mandelabaai Ontwikkelingsagentskap (MBOA) beplan baie opwindende projekte.

Een van hierdie projekte is die bou van ’n voetgangerbrug oor die Baakensvallei-rivier.

Ashraf Adam, uitvoerende hoof van die MBOA sê dit sal Suid-Afrika se eerste saamgestelde brug wees.

Dié projek beloop sowat R12 miljoen. Die doel daarvan is om die beweging van mense tussen die Baakensvallei-gebied en Vuyisile Mini Square te vergemaklik.

Altesaam ag klein, middelslag- en mikro-ondernemings (SMME’s) is aangestel. Hulle kontrakte beloop meer as R2,5 miljoen.

Nog ’n projek is die opknapping van die Anglikaanse kerk St. Peters in Suideinde.

Adam verduidelik dié kerk is ’n baken van die gedwonge verskuiwings in die apartheidsjare.

“Teen 1972 is die leë gebou gevandaliseer. Later het die MBOA die eiendom gekoop en verbeterings soos ’n voetpaadjie aangebring,” sê Adam.

Die kerk sal as toeriste-attraksie beskou word.

Dit hou ekonomiese geleenthede vir toerismebesighede in.

Pompkamer

Dan is daar die ontwikkeling van die TC Magqabi-swembad in New Brighton. Hierdie projek beloop sowat R8 miljoen.

Dié fasiliteit is genoem na Thozamile Magqabi, ’n struggle-held.

Die werk sluit die bou van ’n swembad, ablusiegeriewe, ’n area vir menseredders, ’n pompkamer, plaveisel en ’n kaartjieskantoor in.

Adam sê 38 werkgeleenthede is geskep. Hy voeg by dat 30% van die kontrak se waarde (R1,9 miljoen) aan plaaslike SMME’s gesubkontrakteer is.

Daar is verder ook sprake van die bou van ’n nuwe raadsaal in die Baai, asook opknappingswerk aan Bay­world, die Nelson Mandelabaai-stadion en Happy Valley in Somerstrand.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters