17 dae gelede
Bobani ontken hy kry LUR se brief

DIE brief aan die burgemeester van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit (NMBM), Mongameli Bobani, van die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) oor die stand van sake in die Metro, het volgens Bobani nooit by sy kantoor uitgekom nie.

In dié brief skryf die LUR, Xolile Nqatha, aan Bobani oor die agteruitgang in die administrasie.

Son op Sondag is in besit van ’n copy van dié brief, wat Bobani ’n tydperk van sewe dae gee om te reply en te verduidelik hoekom Cogta nie moet oorneem in die Metro nie.

In die brief sê Nqatha dis Cogta se bedoeling om artikel 139(1)(a) van die Grondwet te laat geld.

Dit behels dat die provinsiale regering mag ingryp as ’n munisipaliteit nie in staat is om sy pligte na te kom nie.

Nqatha sê een van die redes is onder meer die versuim om die vakante poste van die Metro se uitvoerende direkteurs te vul.

Hy sê: “Die nie-aanstelling van uitvoerende direkteurs het ook gelei tot die versuim om artikel 80(2)(a) (van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, 2003) te gehoorsaam wat vereis dat elke begroting- en tesourie-kantoor ’n finansiële hoofbeampte moet hê.”

Verder sê Nqatha in die brief ’n ongekwalifiseerde beampte is as stadsbestuurder aangestel.

“Die munisipale raad het Nobuntu Mgogoshe aangestel as munisipale bestuurder, ’n assistent-direkteur wat nie die voorgeskrewe bevoegdheid en ervaring het om in daardie posisie waar te neem nie.”

Mgogoshe is sowat ’n maand ge­lede aangestel.

Hy sê luidens die Wet op Plaaslike Regering moet die stadsbestuurder vyf jaar relevante ervaring op senior bestuursvlak hê.

Sy derde rede is die raadsvergaderings wat nie plaasvind nie.

Nqatha sê die raad moet minstens elke kwartaal sit en dat die nie-sitting van die raad ’n invloed op dienslewering het.

Die laaste raadsvergadering het sowat vier maande gelede plaasgevind.

Nqatha vra die munisipaliteit om binne sewe dae redes te verskaf hoekom hy nie by die Provinsiale Uitvoerende Raad moet aanbeveel om in te gryp in die sake van NMBM nie.

Die brief is gedateer 25 Oktober 2019, wat beteken Bobani het tot Vrydag kans gehad om te reageer.

Verrassing

Bobani het egter Donderdag laat weet dat sy kantoor nooit die brief ontvang het nie.

In sy brief aan die LUR sê hy die berigte in die media oor die beweerde brief was vir hom ’n verrassing.

Bobani sê hy is nooit die kans gegun om te reageer nie.

Hy skryf verder die publiek kan moontlik dink hy is ’n leuenaar omdat hy die ontvangs van so ’n brief ontken.

“Dit is baie belangrik dat daar ’n goeie verhouding tussen die twee kantore is.

“Ek sou van u verwag om te verifieer of u kantoor inderdaad die brief aan my gestuur het voordat sulke stellings in die openbaar gemaak word,” lui die brief.

Hy skryf verder sy kantoor is nie in besit van so ’n brief nie en kan daarom nie die kwessies, soos in die media uitgelig, aanspreek nie.

Hy sê sy en Nqatha se kantore moet hulle verhouding versterk sodat hulle in ’n beter posisie kan wees om die kwessies in die munisipaliteit se werksaamhede aan te pak.

Mamnkeli Ngam, Cogta-woordvoerder in die Oos-Kaap, sê Cogta sal mettertyd die nodige aankondigings oor die saak maak.

“Dit is die departement se verantwoordelikheid om munisipaliteite te ondersteun om hulle sake te bestuur, asook om seker te maak inwoners kry goeie dienslewering.

“Die LUR is steeds ernstig bekommerd oor die situasie.”

Volgens Ngam is die brief van Nqatha persoonlik afgelewer, asook via faks en per e-pos aan Bobani gestuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters