15 dae gelede
Bloues slaan toe en fnuik misdadigers
genL.MAJ. dawie rabieFoto: ewald stander  ~ 

DANKSY die flinke optrede van die Motherwell taktiese response-eenheid (TRT-lede) is twee verdagtes in hegtenis geneem en ’n gekaapte voertuig teruggekry.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, sê die bakkie is Donderdag 09:30 agter Shoprite in Dakuweg, Kwazakhele, gehijack.

Hy sê die eienaar van die bakkie was op pad om voorraad by die laai-area te gaan oplaai toe twee verdagtes – met vuurwapens gewapen – hom nader.

Volgens Beetge het die booswigte aangedring op die voertuig se sleutel, waarna hulle daarmee weggery het.

Sowat 30 minute later het TRT- lede van Motherwell die voertuig in Mbilanastraat in Kwazakhele gespot.

Beetge sê toe die polisie die bakkie nader, het drie verdagtes wat langs dit gestaan het, skielik begin weghardloop.

Weggekom

Die TRT-lede kon daarin slaag om een van die drie verdagtes – ’n 29-jarige man – in hegtenis te neem.

Die ander twee het weggekom.

Beetge sê by verdere ondersoek is die canopy van die voertuig gevind in die jaart van die huis waar die bakkie gepark was.

Die 50-jarige huiseienaar is toe in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Albei verdagtes verskyn môre in die New Brighton-landdroshof.

Genl.maj. Dawie Rabie, Motherwell se gebiedsbevelvoerder, het die polisielede geloof vir hulle flinke optrede.

Volgens Rabie is bykomende cops in die cluster-omgewing ontplooi en sal die polisie voortgaan om op areas te fokus waar misdaad tydens die feestyd hoogty vier.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters