3 maande gelede
Arm wyke kry 50% van kapitaal-begroting
Mongameli Bobani Foto’s: theo jeptha  ~ 

DIE mayor van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, Mongameli Bobani, het Donderdag op ’n raadsvergadering die voorgestelde kapitaal­begroting vir die boekjaar 2019-’20 voorgelê.

Bobani het gesê die tema vir die begroting is “We See”. Dit is die eerste begroting wat die huidige koalisie-regering voorlê.

In die toegewese kapitaalbegroting van R1,8 miljard sal R835 miljoen (91%) van die R922 miljoen wat aan wyke toegeken is, na armer wyke gaan.

Hy het gesê die fokus is op kritieke projekte by Bay­world, Happy Valley, die Boet Erasmus-stadion en die N2 Baywest-ontwikkeling.

Geld sal ook beskikbaar gemaak word vir verbindingspaaie, soos die Bloemendal-hoofpad, die verlenging van Standfordweg en die Coega- ekonomiese sone.

Onder die direktoraat van ekonomiese ontwikkeling is projekte soos die Florida Heights-behuisingsontwikkeling in Uitenhage en die Waterfront-ontwikkeling.

Ramp-plan

Vir veiligheid en sekuriteit in die Metro is R29 miljoen toegeken vir die aanskaffing van gespesialiseerde voertuie en toerusting.

Nog inisiatiewe sluit in ’n stabilisering-strategie teen bendegeweld, ’n groter fokus op verkeerspolisiëring, die toepassing van by-laws en die hersiening van ’n ramp-plan vir die stad.

Altesaam R49,5 miljoen is toegeken vir die opgradering van drie begraafplase en die ontwikkeling van nege openbare oop ruimtes en vullisverwyderingsgeriewe.

Bobani het gesê meer werk sal geskep word deur die program vir uitgebreide openbare werke (EPWP).

Om klein-, mikro- en makro-besighede (SMME’s) te bemagtig, sal werkgeleenthede van R100 miljoen oor drie jaar geskep word.

Altesaam R200 miljoen is toegeken aan die direktoraat van mens­like nedersettings vir die verkryging van 2 000 behuisingsterreine en grond.

Bobani het gesê 9 431 terreine is reeds gereed vir ontwikkeling.

Vir die direktoraat infrastruktuur, ingenieurswese, elektrisiteit en energie is R223 miljoen eenkant gesit vir onder meer die opgradering van substasies. Van dié bedrag sal R27 miljoen gebruik word om 1 296 Hop-huise en R30 miljoen om 2 500 informele huise te elektrifiseer.

Voorts gaan R20 miljoen bestee word aan 650 openbare beligtings­installasies en R37,6 miljoen aan die opknapping van infrastruktuur.

Altesaam R23,9 miljoen gaan bestee word om infrastruktuur vir slim-meters te installeer omdat die gepeuter aan elektrisiteitsinstallasies die Metro baie geld kos.

Sowat R44 miljoen is beskikbaar vir die direktoraat van sport, ontspanning, kuns en kultuur vir die konstruksie van meerdoelige sentrums in wyke 17, 21, 34 en 42.

Nog R5 miljoen sal gaan aan die Nelson Mandelabaai-stadion.

Sowat R482 miljoen is toegeken vir die direktoraat van infrastruktuur en ingenieurswese vir onder meer die teer van 14 km grondpaaie, die opknapping van die oppervlak van 15 km bestaande paaie en die konstruksie van sypaadjies. Van dié geld sal ook gebruik word vir die geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS).

Daar sal ook R317 miljoen gespandeer word aan onder meer die opgradering van waterbehandelingsgeriewe en reservoirs.

Bobani het toe ’n bom laat val: “Om ons stad vorentoe te neem, verg dit ’n opoffering van almal. Eiendomsbelasting sal met 7,7% opgaan, water met 7,5%, sanitasie met 7,5%, vullisverwydering met 7,5% en elektrisiteit met 13,04%, afhangende van goedkeuring van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika.”

Volgende week sal die raad besluit of dié voorgestelde begroting goedgekeur gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters