3 maande gelede
3 Russouws, ‘mede-killer’ wag op bail
christine russouw  ~ 
christine russouw
chantellrussouw
wayne russouw
ronaldswartz

DIE Russouw-trio en hul makker wat aangekla word van die moord op Petrus Scholtz (70), hoor volgende week of hulle borgtog kry.

Christine Russouw (55), haar dogter Chantell (35) en seun Wayne­ (31) is almal in aanhouding.

Ronald Swartz (24), Wayne se vriend, is verlede week in hegtenis geneem en word saam met die Russouws van die moord op die bejaarde aangekla.

Wayne het glo vir Swartz ingeroep om hom met die moord te help.

Scholtz, ’n afgetrede elektri­siën, is onder vals voorwendsels van werk na die Russouws se huis in Kabegapark gelok.

Benewens die dag van sy dood, het die beskuldigdes glo al voorheen probeer om Scholtz na hul huis toe te lok.

Toe die hofsaak begin, wou landdros Thuli Betela by Wayne weet of hy hospitaal toe geneem is vir behandeling aan sy seer hand.

“Nee, my hand is nou besig om op sy eie te genees, maar dit is nog rou.

“Ek het met hulle gepraat oor medikasie vir my depressie, maar hulle het niks gedoen nie. Zero,” het Wayne geantwoord.

Gcobisa Plaatjie, sy regsverteenwoordiger, het gesê Wayne moet behandeling kry, want sy hand word septies.

Betela wou weet waarom haar bevel dat Wayne behandeling moet kry, nie uitgevoer is nie.

Die staatsaanklaer, adv. Melanie Hammett, het gesê die staat kan voorstelle maak vir St. Albans, maar kan hulle nie dwing om dit uit te voer nie.

Betela het opnuut ’n bevel gemaak sodat Wayne na ’n hospitaal geneem moet word.

Die polisie het op 19 Julie in Fairview op Scholtz se lyk afgekom.

Hy het snywonde aan sy kop gehad, sy hande en voete was vasgebind en ’n plastieksak was oor sy kop getrek.

Die beskuldigdes het Scholtz na verneem word in ’n vrieskas geprop. Hulle het sy bakkie en sy tools gaan verkoop.

Al die beskuldigdes bly in aanhouding en verskyn op 14 Augustus weer in die hof.

Volg Lynn Williams op Twitter. Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters