Verlede maand
Voerskenking soos manna vir die boere
broodnodig: Hulp vir Namakwalandse boere het van ver gekom.Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

SUKKELENDE Namakwalandse boere is onlangs deur hulle vriende in die boerderybedryf gehelp.

Dié week het 21 groot trokke die lang pad (1 360 km) vanaf Middelburg, Mpumalanga, aangedurf om die tonne veevoer na Springbok te neem.

Die veevoer is geskenk deur die Broodsnyersplaas-boerevereniging en Omnia Kunsmis. Dit sluit in mielies, mieliemeel, oulandsgrasbale en ’n gebalanseerde voerrantsoen wat verkorrel is.

Volgens Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, was dit ’n groot vreugde toe hulle Maandag die veevoerskenking aan hulle lede kon uitdeel.

Hy sê: “Soos ’n ma eerste na haar kinders kyk, so sien Agri Namakwaland ook eerste om na haar lede.

“Ons het ongeveer 260 lede, van wie sowat ’n derde bruin boere is. Hulle boer hoofsaaklik op ongeveer 1,8 miljoen hektaar kommunale grond. Selfs mense buite die boerderybedryf, soos tehuise, het ons mieliemeel gegee.”

Dankbaarheid

Weens die knellende en lang­durige droogte in Namakwaland sukkel die boere vreeslik, veral die bruin boere, wat nie altyd die nodige fondse het om kop bo water te hou nie.

Maandag het die boere en hulle families, vriende en baie belangstellendes na die nywerheidsgebied in Springbok opgeruk vir die amptelike ontvangs en oorhandiging van die veevoer.

Daar was orals vreugde en dankbaarheid onder die boere te bespeur. Vir hulle was dit soos manna uit die hemel. Dit sal tydelike verligting bring, want hulle hoop die sluise van die hemel sal so teen of ná Paasfees oopgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters