Verlede maand
Verbruikers te afhanklik van Eskom
gô is uit: ’n Kenner meen mense moet hulle eie krag kan opwek.Foto: NETWERK24  ~ 

OMDAT Eskom nie meer in staat is om genoeg krag op te wek nie, moet Suid-Afrikaners toegelaat word om hulle eie krag op te wek.

Dít is die mening van die dekaan van die fakulteit ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Wikus van Niekerk, na aanleiding van die toepassing van beurtkrag waaronder die land die laaste paar maande gebuk gegaan het.

Van Niekerk, die voormalige direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, meen verbruikers is oormatig afhanklik van die verkryging van elektrisiteit vanaf een bron – Eskom. Dis krag wat Eskom of plaaslike munisipaliteite via die nasionale elektrisiteitsnetwerk versprei. Ander elektrisiteitsbronne is egter geredelik beskikbaar, selfs teen ’n laer koste as wat verbruikers tans betaal.

Penaliseer

“Die tegnologie en toerusting waarmee huishoudings hulle eie krag kan opwek, het tot so ’n mate ontwikkel dat ware alternatiewe beskikbaar is. Verbruikers moet nie net aangemoedig word om in hierdie tipe tegnologie te belê nie; hulle moet ten minste finansieel daarin ondersteun word deur gepaste tariefstrukture,” sê hy.

Van Niekerk sê al laat baie munisipaliteite verbruikers nou toe om sonfotovoltaïese eenhede op hulle persele te installeer en om selfs ’n oormaat krag terug te voer na die elektrisiteitsnetwerk, het die meeste munisipaliteite hierdie sogenaamde “terugvoertariewe” só gestruktureer dat hulle inderdaad verbruikers daarvoor penaliseer. Dit is die vernaamste rede waarom baie verbruikers sulke stelsels sonder die owerhede se medewete installeer, meen hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters