2 maande gelede
Twintig ‘two-timers’ vasgetrap
uitgevang: Die hof is 20 mense se voorland nadat hulle na bewering twee keer probeer stem het. Foto: city press  ~ 

TWINTIG mense is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering probeer het om twee keer te stem.

Die polisie se National Joint Operational and Intelligence Structure het die vermeende kansvatters by Woensdag se nasionale en provinsiale verkiesing vasgevat.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het in ’n verklaring gesê 19 verdagtes is in KwaZulu-Natal gearresteer en 1 in Gauteng.

Van die mense wat in KwaZulu-Natal aangekeer is, het 16 in Danhauser oortree. Twee is in Hluhluwe vasgetrap en een in Port Shepstone.

Die laaste verdagte is in Douglasdale in hegtenis geneem. Alle verdagtes sal in die onderskeie plaas­like howe verskyn.

  • In ’n aparte voorval is Arnold Mulaudzi Dinsdagaand gearresteer vir die oortreding van artikel 87 (1) (a), paragraaf 2 en 3, van die Kieswet 73/1998.

Mulaudzi het Donderdag in die Vuwani-landdroshof verskyn en is op R5 000 borgtog vrygelaat.

Die saak is tot 3 Junie uitgestel vir nader ondersoek.

“Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het maatreëls ingestel om te keer dat mense twee keer stem. Dié arrestasies wys dit werk. Die vier vlakke van security features is doeltreffend toegepas om die integriteit van die kiesproses te beskerm,” het Naidoo gesê.

Volgens thesouthafrican.com sluit die voorsorgmaatreëls meer in as net die inkmerk op die nael.

Eerstens mag net mense op die kieserslys stem, en hulle moes geregistreer het om op die lys te kom. Die persoon se naam word doodgetrek wanneer hulle stem, wat ver­seker hulle stem net een keer.

Aangebring

Wettige kiesers moet ook hulle geldige ID laat scan voordat hulle naby ’n stembrief mag kom.

As iemand nie kan stem waar hulle geregistreer is nie, moet al hulle details op ’n vorm aangebring word. Hierdie kieser moet ook ’n beëdigde verklaring aflê.

Waarnemers en verteenwoordigers van die verskillende politieke partye hou ook ’n ogie oor die stemmery, die telproses en die insamel van die uitslae.

Naidoo het gewaarsku mense wat in die sosiale media spog dat hulle twee keer hulle kruisies gaan trek het, moet besef hulle het die Kieswet oortree en bedrog gepleeg.

Die polisie het notisie geneem van die verskeie video clips en boodskappe wat online versprei is en die oortreders aangepraat.

In een saak is OVK-beamptes van hulle pligte onthef omdat hulle vanuit ’n bakkie gewerk het.

Die kwessie van stembokse wat langs die pad gevind is, is opgeklaar. Die polisie het ook gevra dat mense gunstige verkiesingsuitslae op ’n verantwoordelike manier vier.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters