Verlede maand
‘Stoutes’ en ‘lediges’ moet sit
puik werk: Benjamin Jonas (links), Basil Kock en Senobia Lewis het seker gemaak die inbrekers mang lank.Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

SPRINGBOK. – Drie skobbejakke is onlangs lank gebêre vir huisbraak en diefstal.

Die drie, Azelle Engelbrecht (22), Leon Stoffel (21) en Clement Boois (18), het Maandag hier in Springbok se streekhof verskyn.

Die saak spruit uit ’n voorval wat op 7 April 2018 hier gebeur het.

Volgens die staat het die gevonniste drie en drie ander jeugdiges op dié dag by ’n sekerheidsmaatskappy ingebreek.

Daar het hulle ’n groot hoeveelheid geld en ’n vuurwapen gesteel.

Ál ses is daarna gearresteer en aangehou.

Die cops kon onder leiding van speuradjudant Benjamin Jonas en speurkonstabel Senobia Lewis van die gesteelde geld terugvind.

Kapt. Sergio Kock, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle het ook klere en die vuurwapen teruggevind. Dít ná goeie speurwerk.

Die streekhof in Springbok het later die klagte teen een van die ses teruggetrek.

Die Springbok-distrikshof het gelas twee van hulle (minderjariges van 15 en 16) moet verpligte rehabilitasie-programme ondergaan.

Die ander drie is as volg gevonnis vir hulle misdade: Engelbrecht het ag jaar gekry en Boois én Stoffel elk vyf jaar vir die klagte van huisbraak en diefstal.

Vasgetrek

Intussen het brig. Francis Hender, gebiedsbevelvoerder in die Namakwa-streek, Jonas en Lewis vir hulle goeie speurwerk geloof.

“Die twee het niks ontsien nie en verseker die oortreders is vasgetrek en gevonnis danksy hulle deeglike ondersoekwerk.”

Van die hofgangers het later anoniem buitekant die hof vertel dat die jeug hier soms baie ledig en verveeld is.

Dit het glo ook veroorsaak dat hulle die “stout daad” beplan en uitgevoer het.

Basil Kock was die staatsaan­klaer.

  • Ná nóg rape-saak bly die Noord-Kaap die rape-provinsie van die land.

Die afgelope week is twee vuil varke lank tjoekie toe gestuur omdat hulle nie hulle lustige spykers in toom kon hou nie.

Klaas Kout het 20 jaar gekry en sy maat Kerneels Tieties lewenslank vir hulle vieslike dade wat hulle in hulle tuisdorp, Carnarvon, gepleeg het.

Die saak spruit uit ’n voorval wat op 4 Augustus laas jaar gebeur het.

Volgens die staat het die twee die 44-jarige slagoffer genader terwyl sy huiswaarts gekeer het.

Die vrou het van ’n plaaslike drinkplek gestap.

Daarna het die twee haar na een van hulle huise geneem en haar om die beurt verkrag.

Die cops het hulle ’n paar dae later gearresteer. Hulle het borgtog gekry. Tydens hulle borgtogperiode het Kout egter by drie geleenthede by wonings ingebreek.

Donderdag is Kout tot 20 jaar gevonnis omdat hy skuldig gepleit het op die klagte van verkragting en huisbraak. Hy het verder ses jaar tronkstraf gekry vir huisbraak.

Tieties het aanvanklik onskuldig gepleit op die aanklag van verkragting, maar hy het later tog skuld erken.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters