4 maande gelede
Ou gebou tot niet ‘weens brandweer’
VLAMME: Die inwoners is hartseer oor hulle geskiedkundige klubsaal afgebrand het. FOTO verskaf  ~ 

“AS DIE brandweermense net reg opgelei was, sou hulle nog iets kon red.”

Só voel talle inwoners van Nababeep nadat een van hulle bekende bakens dié week afgebrand het.

Dit was die bekende voormalige blanke klubsaal, ook bekend as die sen­ior klub, van die destydse Okiep-kopermaatskappy (OCC). Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n kortsluiting.

Volgens David “Boetie Ons Winkel” Cloete, ’n gastehuis-eienaar wat oorkant die klubsaal woon, het die brand omstreeks 16:00 uitgebreek.

“Ek het eers rook en toe net vlamme gesien.

“Verbygangers het ingespring en begin help om die vlamme te probeer doodgooi met elke bietjie water wat hulle kon kry.”

Bekommerde omstanders vertel die brandweer het eers opgedaag nadat die vuur al vir ’n paar uur gewoed het.

Intussen het Cloete mense toegelaat om water uit sy swembad te skep om die brand te help blus.

Kennis

“Ná die brand kan ek net verslae gestaan en kyk na dié eens prag­tige baken van Nababeep.

“Dit is vernietig deur ’n brand wat volgens baie mense onnodig handuit geruk het. Met die nodige kennis van brandbestryding kon dit deur die brandweermanne gered gewees het,” meen Cloete.

Hieroor spuug die inwoners vuur omdat die brandweerdiens van die Nama Khoi-munisipaliteit (NKM) hulle in die steek gelaat het.

Volgens sommige van die in­woners het die brandweermanne nie eens oorpakke of maskers aangehad nie. Sommige van hulle het net met ’n T-shirt, jeans of selfs ’n trunkie aan die vlamme probeer blus.

Samantha Titus, munisipale bestuurder van die NKM, sê sy was nie self daar nie. Sy sou ’n verslag aanvra om vas te stel of die aantygings waar is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters